AMARNA-BRIEWE

AMARNA-BRIEWE is dokumente wat deur argeoloë by Tel el-Amarna ontdek is, ongeveer 350 km suid van Kaïro. Toe Amenhotep IV (later bekend as Ikhnaton) in 1377 vC farao* van Egipte* geword het, het hy ’n nuwe hoofstad Akhetaton (Tel el-Amarna) gebou as deel van omvattende godsdienstige hervorming. In dié tydperk het die 18de Egiptiese dinastie sy kulturele hoogtepunt bereik, met aansienlike kontak tussen Egipte en Mesopotamië* en met Egiptiese beheer oor groot dele van Sirië* en Palestina*.

Die Amarna-briewe bestaan uit ongeveer vier honderd kleitablette van die koninklike argiewe en is in Akkadiese* spykerskrif geskryf (in daardie dae die amptelike taal van internasionale korrespondensie). Meeste tablette bestaan uit diplomatieke korrespondensie van buitelandse regeerders wat onderdanig was aan die Egiptiese farao, en werp veral lig op die manier waarop Egipte sy gebiede in Palestina* geadministreer het. Die briewe bevat bv klagtes van die Palestynse regeerders oor die chaos wat tydens Amenhotep IV se tyd in hulle gebied geheers het as gevolg van onderlinge struwelings tussen plaaslike regeerders.

Behalwe die diplomatieke korrespondensie, is die besonder mooi “himne aan die son” ook by Amarna ontdek. Dis gerig aan Ra*, die songod, en besing sy werke in die natuur – baie soortgelyk aan Ps 104.

 

Sidebar