AMBROSIUS VAN MILAAN

AMBROSIUS VAN MILAAN (circa 339–397), die kleinseun van Konstantyn* die Grote, is in Trier in Gallië (tans min of meer Frankryk) gebore. Sy pa, Aurelius Ambrosius, was goewerneur van Gallië en die familie volg met oorgawe die Christelike geloof*. Aurelius sterf vroeg en die gesin verhuis na Rome*. Ná Ambrosius se studie in die regte word hy in 370 goewerneur van die provinsie Aemilia-Luguria, met hoofstad Milaan. Ná die dood van biskop Auksentius word hy in 374 verkies as biskop* van Milaan – ’n amp wat hy 23 jaar lank beklee. Ambrosius was ryk en verdeel sy rykdom onder die armes. Hy verwerf bekendheid as pastor en prediker. Hy staan bekend as ’n vreeslose kerkleier, en dit word bewys toe hy Teodotius* se opstand in Tessalonika* met krag en wysheid hanteer. Sy kontak met en beïnvloeding van keisers, baan die weg vir samewerking tussen kerk* en staat* in Italië vir geslagte ná hom. Bedags bedien hy die Woord*, besoek siekes, beproefdes en sterwendes, snags word vir studie en skryfwerk gebruik. Hy beïnvloed die kloosterwese (Kyk by: Klooster) in Italië, bevorder die gebruik van die Psalms* en ander liedere in kerklike milieu. Van sy werke soos De Fide, De Spiritu Sancto en De Mysteriis gee kerklike leiding, ook deur Augustinus*. Sy hoofwerk was De Officiis Ministrorum, ’n boek oor Christelike etiek* vir geestelikes.

Vir verdere lees: Homes Dudden 1935. The Life and Times of St Ambrose (2 dele). Oxford: The Clarendon Press. JD Douglas (red) 1974. The New International Dictionary of the Christian Church. Exeter: Paternoster Press. HA van der Mast 1906. Beelden en Schetsen uit de Kerkgeschiedenis. Amsterdam: Van Bottenburg.

 

Sidebar