AMESIUS, WILLIAM

AMESIUS, WILLIAM (1576–1633). Puriteinse (Kyk by: Puriteine) teoloog* en hoogleraar te Franeker. Gebore in Ipswich en studeer vanaf 1594 te Christ College, Cambridge in Engeland. Hier kom hy onder die invloed van die puriteinse teoloog W Perkins, maar die geestelike klimaat in Cambridge staan hom nie aan nie en ná veel spanning verlaat hy Engeland. In 1610 gaan hy na Rotterdam in Nederland, waarna hy bekend raak en is tot in 1618 kapelaan in Brill en leraar in die Engelse gemeente in ’s-Gravenhage. Hy woon die Sinode van Dordt (1618–1619) in Dordrecht by waar hy deur die State-Generaal aangestel is om as sekretaris die voorsitter Johannes Bogerman by te staan. In die agtergrond speel hy ’n belangrike rol en verseker so die vertroue en toegeneentheid van die kerk in Nederland.

Hierna word hy hoogleraar in teologie te Franeker en lewer op 7 Mei 1622 sy intreerede en word in 1626 die rektor. Hy trek studente van oor die hele Europa en is ’n skitterende dosent. Sy skriftelike nalatenskap word in 1658 in vyf boekdele gepubliseer. Hy gee ook klas aan die Latynse skool en bly leraar van die Engelse gemeente in Rotterdam met die doel om die puriteinse opvattings by die nuwe geslag Engelse te vestig.

Vir verdere lees: JD Douglas (red) 1974. The New International Dictionary of the Christian Church. Exeter: Paternoster Press.

 

Sidebar