AMILLENNIALISME

AMILLENNIALISME is nie ’n ontkenning van die Millennium* nie, maar ’n soort vergeesteliking daarvan. Teenoor die Postmillennialisme* wat oortuig is dat die evangelie* al sterker in die wêreld sal groei sodat ons geleidelik in die Millennium sal inbeweeg, glo die Amillennialisme dat ons alreeds sedert die hemelvaart* in die Millennium is. Hulle is oortuig dat die siele* van die gestorwe gelowiges in die hemel* saam met Christus* regeer gedurende die hele tyd tussen hemelvaart* en wederkoms*. Dit is dus ’n soort hemelse Millennium. Satan* is in hierdie tyd gebind in die sin dat hy nie meer die nasies kan verlei nie, omdat die evangelie aan hulle verkondig word. Die tekens van die tye* kom dwarsdeur hierdie tyd voor, maar dit sal in intensiteit toeneem kort voor die wederkoms van Christus. In dié tyd sal die Antichris* verskyn, en hy sal die leiding neem in die groot verdrukking. Satan sal kort vóór die wederkoms losgelaat word om die nasies te verlei. Hulle sal in opstand kom teen God*, maar Christus sal weer kom, en hulle by die slag van Armageddon* oorwin. Tydens die wederkoms van Christus sal die dooies opstaan, die gelowiges sal verheerlik word, die oordeel sal voltrek word, die gelowiges sal die nuwe aarde beërf, en die ongelowiges sal verderf toe gaan.

Die Amillennialisme aanvaar nie dat daar eers ’n wegraping* voor die wederkoms sal wees, of dat die dooies in groepe sal opstaan en dat daar twee verskillende oordele sal wees nie. Dit is oortuigings van die Dispensasionalistiese Premillennialisme*.

 

Sidebar