AMMONITIES

AMMONITIES is die taal van die Ammoniete*, ’n volk verwant aan die Israeliete. Ammonities kom sterk ooreen met Hebreeus* (Kyk ook: Semitiese tale).

Die Ammoniete stam af van Lot* by sy jongste dogter (Gen 19:38). Hulle is dus nou verwant aan die Moabiete*, hulle suidelike bure, wat van Lot se oudste dogter afstam (Gen 19:37). Soos die Moabiete is hulle verbied om in die vergadering van die Here* te kom, omdat hulle Israel* laat vervloek het (Deut 23:3-6). Die Ammoniete was dikwels vyande van die Israeliete, maar daar was ook ondertrouery (1 Kon 11:1; 14:21; Neh 13:23).

Die land Ammon* was geleë oos van die Jordaan*. Ammon het oorvleuel met die landstreek Gilead* en die grondgebied van die Israelitiese stam Gad* (Jos 13:24-28).

Die Ammoniete het die Samsummiete verdryf (Deut 2:20-22), maar is met tye deur ander volke, soos die Ammoriete*, oorheers (Jos 12:2). Teen die laaste eeu vC is die gebied by die Romeinse Ryk* ingelyf, waarna die volk opgegaan het in die Arabiese* stamme.

Die hoofstad van die Ammoniete was Rabba, 40 km noordoos van die Dooie See. Die stad is in die derde eeu vC hernoem na Filadelfia en staan vandag as Amman bekend.

Milkom* (Kyk ook: Moleg) was ’n belangrike Ammonitiese afgod* (1 Kon 11:5, 7, 33). In die dae van Jefta* is ook Kemos*, die god van die Moabiete, aanbid (Rig 11:24).

 

Sidebar