AMOS (PERSOON EN BYBELBOEK)

AMOS (PERSOON EN BYBELBOEK). Amos se nering was aanvanklik om met vee te boer en wildevye te kweek. Hy was dus nie een van dié profete van wie sommige ter wille van “brood” geprofeteer het nie (7:12-14). Op ’n dag het die Here* ’n besoek aan Amos gebring. Dit was by Tekoa, ’n dorpie suidoos van Betlehem*, in die gebied van Juda*4. Dáár het die Here hom agter die kleinvee weggevat en vir hom gesê: “Gaan tree as profeet op teen my volk Israel*” (7:15). Van daardie oomblik af het Amos geweet: Die Here God werk deur “sy dienaars die profete” (3:7). Hierdie woorde verskyn in ’n gedeelte van die boek Amos wat treffend opgebou is. Dit gaan deurgaans oor oorsaak en gevolg, met die toespitsing daarvan in 3:8b: “Die Here God het gepraat (oorsaak), wie sal nie as profeet optree nie (gevolg)?”.

Amos word tereg die prediker van God se geregtigheid* genoem. In die tyd van sy optrede in 760 vC het die Noordryk* op politieke, sosiale en ekonomiese gebied gefloreer. Hulle probleem was egter dat hulle ten spyte van ’n uiterlike godsdienstigheid, innerlik en geestelik van die Here afvallig geword het. Die Here se eis was duidelik: “Probeer goed doen, nie verkeerd nie, dat julle kan lewe …” (5:14-15, 24). As hulle dit doen, mag dit net gebeur dat die Here Hom “dalk ontferm oor wat van Josef* oor is” (5:15; vgl 7:3 en 6). Israel het egter voortgegaan om te sondig en die profete* wat hulle vermaan, die swye opgelê (2:12; 7:13). Daarom moet Israel hom klaar maak om voor sy God te verskyn (4:12), want die einde het vir hierdie volk gekom (7:8; 8:2). Die Here gaan hulle laat vasval, soos ’n wa vasval wat te vol gerwe is (2:13); hulle pogings om aan die oordeel te ontkom, sal ydel wees (2:14-16). In vier uitsprake (3:9-43) beskryf die profeet die aanstaande ondergang van Samaria*. Die Here wou sy volk met allerlei rampe na Hom toe laat terugkeer (4:6-11), maar dit was tevergeefs. Daarom sal Hy self kom om met hulle af te reken (4:12-13). Dit sluit in dat Hy hulle by Damaskus* verby in ballingskap sal wegvoer (5:27; 6:7, 14). Amos se voorbidding vir die volk sal nie meer baat nie (7:7-9), want Israel se tyd is verby (8:2). Al wat oorbly, is ’n groot stilte (8:3). Die straf vir Israel se sondes is ’n aardbewing (8:8), gevolg deur sonsverduistering en ander verskrikkings (8:9-14). In die vyfde gesig word die onontkombaarheid aan die oordeel geteken (9:14).

Volgens Amos was Israel se kernprobleem dat hulle wel ’n “regsinnige leer” het (2:9-11; 3:2; 5:18-20), maar dat dit nie gepaard gaan met ’n werklike liefde* vir God en die medemens, veral die armes, nie.

Amos se prediking het benewens oordele, ook ’n perspektief geopen op die heil van die toekoms. Hy verbind dit aan die huis van Dawid* as instrument van God se heerskappy oor die aarde (9:11-15). Van hierdie hoër betekenis praat die Nuwe Testament* (Hand 15:15-17). Die profesie van Amos word aangehaal om te verduidelik dat die bekering* van die heidene in God se raad opgesluit lê. (Kyk ook: Boek van die Twaalf.)

Vir verdere lees: A König 1974. Die profeet Amos. Kaapstad: NGKU.

 

Sidebar