AMP

AMP. Ons lees in die Bybel* onder andere van die amp van skinker (Gen 40:13, 21), die priester*-amp (Eks 29:9), die amp van Leviet* (Num 8:25), die amp van dissipel* (Hand 1:20) en die amp van koning* (Hand 13:22). Ons praat vandag ook bv van die amp van die owerheid*. In die Bybel het die begrip “amp” ’n spesifieke betekenis en vir Nuwe-Testamentiese* (gereformeerde*) gelowiges is veral die “besondere ampte” van predikant*, ouderling* en diaken* van belang, en die “algemene amp” van alle gelowiges. Hierby kan ook die doktore-amp gevoeg word, wat verantwoordelik is vir die opleiding van predikante. Hierdie ampte hou verband met die ampte van profeet* (predikant), priester (diaken) en koning (ouderling) in die Ou Testament*. Wanneer iemand tot ’n spesifieke amp verkies is, is hy destyds gesalf as teken van sy verkiesing en toerusting. Die ampte van die Ou Testament het gewys na en is vervul in Christus* (“Gesalfde”). Hy is gesalf met die Heilige Gees* tot hoogste Profeet, enigste Hoëpriester en ewige Koning. Hy is dus die enigste Hoof van sy kerk. Die ampte in die kerk is deur God ingestel om in die Naam van Christus sy Woord* en sy gesag te bedien. Die oorspronklike betekenis van die woord amp is dan ook niks anders nie as diens. Al die besondere ampte is ook gelyk.

Alle gelowiges beklee die algemene amp van die gelowige. Hulle behoort aan die liggaam van Christus, waarvan Hy die Hoof is, en het daarom ook deel aan sy salwing*. Daarom word ons “Christene*” genoem, om ons verbondenheid met Christus uit te druk. As profete moet ons sy Naam bely; as priesters moet ons ons lewe as offer van dankbaarheid aan Hom toewy; en as konings moet ons teen die sonde* stry en daaroor heers. (Kyk ook: Ampsdraer*.)

 

Sidebar