AMPSDRAER

AMPSDRAER. Die begrip “ampsdraer” is ’n kerklike term en dui ’n persoon aan wat deur Christus* en wel deur middel van die kerk* tot die amp* geroep word. In die Nuwe-Testamentiese* kerk, en in gereformeerde* kerke, is die ampsdraers die diakens*, ouderlinge* en predikante* (van wie sommige ook as “doktore” beroep word vir opleiding van ander predikante). ’n Ampsdraer word geroep (Heb 5:4) en is daarom uiteindelik aan God self rekenskap verskuldig oor die uitvoering van sy of haar amp. Ampsdraers moet aan sekere vereistes voldoen, bv vol wees van die Heilige Gees* en wysheid besit (Hand 6:3), onberispelik wees, getrou aan sy of haar lewensmaat, nugter, verstandig, beskaaf, bekwaam om te onderrig, nie aan drank verslaaf of ’n rusiemaker nie, inskiklik, vredeliewend, nie geldgierig nie, mense wat hulle eie huise goed regeer (1 Tim 3:2-4). Hulle opdrag word ook in die Bybel* gegee. Die gemeente* moet die ampsdraers in ere hou ter wille van hulle amp en vir die ampsdraers bid. By hulle bevestiging moet die ampsdraers instemming betuig met die suiwer leer* van die Skrif. Wanneer ampsdraers in hulle lewe of hulle belydenis afwyk, dit wil sê ’n dwaalleer* verkondig of ’n growwe openbare sonde* begaan, kan hulle uit die amp geskors of afgesit word.

 

Sidebar