ANABAPTISME

ANABAPTISME. Gedurende die Reformasie* (Kerkhervorming*) van die 16de eeu het baie mense wat die Katolieke Kerk* verlaat het, nie met die idees van Luther*, Zwingli* en Calvyn* saamgestem nie. Die Anabaptiste ontwikkel vanaf 1520–1530 in veral Switserland, Duitsland en Nederland as teenbeweging en word ook die “radikale Reformasie” of “linkervleuel van die Reformasie” genoem. Anabaptisme verwerp die doop* van kinders, pleit vir ’n terugkeer na die voor-Konstantynse kerk (Kyk by: Konstantyn) en vra ’n sterk persoonlike verbintenis van gelowiges* met Christus*. Hulle verwerp ook die simbiose tussen kerk* en staat* (wat die Reformasie nie bevraagteken het nie). Die eerste doop van volwassenes vind plaas in Januarie 1525 in Zürich. Dit lei tot die stigting van die eerste Protestantse* kerk sonder politieke steun en die opstel van sewe artikels deur Michael Sattler wat in Februarie 1527 deur die Switserse anabaptistiese gemeenskappe aanvaar is. Die artikels sluit in: die doop van volwassenes, die noodsaaklikheid van kerklike dissipline in ooreenstemming met Matt 18:15-18, die onmoontlikheid vir ’n Christen* om ’n magistraat te wees of om geweld te gebruik, en ’n radikale skeiding tussen kerk en staat. Baie Anabaptiste is wreed vermoor, verban en gedwing om te vlug. (Kyk ook: Jacob Hutter*.)

 

Sidebar