ANALITIESE FILOSOFIE

ANALITIESE FILOSOFIE is ’n stroming in die Angelsaksiese filosofie wat in die 20ste eeu ontstaan het en verbind word aan GE Moore, B Russell en L Wittgenstein. Dit staan ook bekend as taalfilosofie (“linguistic philosophy”). Hulle uitgangspunt is die gedagte dat alle belangrike wysgerige probleme uiteindelik taalprobleme is: probleme veroorsaak deur die misleidende formulerings wat die taal ons bied. Deur duidelik te maak op watter maniere talige formulerings misleidend is, kan konseptuele probleme opgelos word. So word bv in die uitsprake “bome bestaan”, “regverdigheid bestaan” en “God bestaan” die term “bestaan” drie keer gebruik, maar het hierdie term elke keer ’n ander betekenis. Analise van die ooreenkomste en verskille kan misverstande (“God bestaan nie, want ons kan God nie – soos bome – fotografeer nie”) wegneem. Hoewel die analitiese filosofie aanvanklik sterk antimetafisies (metafisies = bo-sinnelik) gerig was, het dit later gelei tot hernude opbloei van die godsdiensfilosofie, waarby ’n verskuiwing van die kenteorie (in die 1950’s en 1960’s) via die Godsleer (1970’s en 1980’s) na ander dele van die teologie* (vanaf die 1990’s) plaasgevind het. Bekende verteenwoordigers van hierdie “wysgerige teologie” is J Hick, DZ Phillips, A Plantinga, R Swinburne en uit Suid-Afrika, V Brümmer*.

Vir verdere lees: V Brümmer 2006. Collected Writings. Aldershot: Ashgate.

 

Sidebar