ANANIAS

ANANIAS. Die Nuwe Testament* vertel van drie Ananiasse.

  1. Hy en sy vrou, Saffira*, was lidmate van die eerste gemeente* in Jerusalem* (Hand 5:1-11). Soos Barnabas*, verkoop hulle ’n eiendom en skenk die opbrengs aan die gemeente om aansien te verwerf. Hulle gee voor om die volle bedrag te gee, maar hou ’n deel terug. Petrus* sien die bedrog raak, en hulle sterf drie uur uit mekaar onder God se oordeel. Hierdeur beklemtoon die skrywer van Handelinge* die heiligheid* van God en die gemeente.
  2. Hy was ’n Joodse Christen* van Damaskus* wat getrou volgens Moses* se wet* gelewe het en ook by die Jode* in aansien was (Hand 9:10-19; 22:12-16). Die Here* Jesus* het in ’n gesig aan hom verskyn met die opdrag dat hy na Reguitstraat gaan, Paulus* die hande oplê (Kyk by: Handoplegging), en aan Paulus sy lewenstaak as sendeling* gee. Hierna kon Paulus weer sien, waarop Ananias hom gedoop* het.
  3. Hy was ’n hoëpriester* ongeveer 47–58 nC. Hy het Paulus in Jerusalem* verhoor (Hand 23:1-5) en die saak teen hom in Sesarea* gelei (24:1). In Jerusalem het hy Paulus op die mond laat slaan, waarop Paulus met ’n profetiese oordeelsuitspraak gereageer het. Paulus het om verskoning gevra toe hy hoor dat Ananias die hoëpriester is. Die leser het egter reeds God se oordeel oor die hoëpriester gehoor.

 

Sidebar