ANDERSON, RUFUS

ANDERSON, RUFUS (1796–1880) het ’n groot invloed op die sendingtoneel in die wêreld en ook in Suid-Afrika uitgeoefen. Gebore as predikantkind in die Kongregasionaliste Kerk*, is hy van vroeg af aan die sending* blootgestel. Hy word later die algemene sekretaris van die Amerikaanse Paneel van Gestuurdes vir Buitelandse Sending (1832–1866). Saam met die ander bekende sendingkundige Henry Venn* (wat kerklik as “Laag-Anglikaans” beskou kan word), het hulle die sogenaamde “Three selves” ontwikkel (Kyk by: Drie-selwe-beweging). Anderson het daarin van Venn verskil dat hy nie die klem op die “beskaafmaking” van die inheemse bevolking gelê het nie. Hy het beklemtoon dat sendingwerk onder die plaaslike bevolking gedoen moet word om hulle so gou as moontlik selfstandig te laat word. Die kerk wat so ontstaan, moet ook so selfstandig as moontlik van die sturende kerk ontwikkel. Daarom moet die jong kerk daartoe gelei word om self-onderhoudend, self-regerend en self-propagerend te wees. (Venn het, uit sy Anglikaanse* agtergrond, van self-uitbreidend gepraat.) Alhoewel kritiek teen Anderson en Venn se hantering van selfstandigheid uitgespreek is, het hulle tog die grondslag vir die veel groter selfstandigheid van die jonger kerke gelê.

Vir verdere lees: Anderson GE (red) 1994. Mission Legacies: Biographical Studies of Leaders of the Modern Missionary Movement. New York: Orbis.

 

Sidebar