ANDREW MURRAYPRYSE, ANDREW MURRAY-DESMOND TUTUPRYSE en DESMOND TUTU-GERRIT BRANDPRYSE

ANDREW MURRAYPRYSE, ANDREW MURRAY-DESMOND TUTUPRYSE en DESMOND TUTU-GERRIT BRANDPRYSE. Die Andrew Murrayprys is in 1978, met die 150ste herdenking van dr Andrew Murray*2 se geboortedag, deur die Wamakersvalleise Kultuurraad van Wellington en Bybelkor* in samewerking met ’n tiental organisasies ingestel om Afrikaanse godsdienstige en teologiese boeke van gehalte te bekroon. Mettertyd het dit ’n prestigeprys geword en het van die belangrikste Afrikaanse skrywers van godsdienstige en teologiese werke die prys ontvang, onder wie Ferdinand Deist* (2 keer), Johan Heyns* (3 keer), Willie Jonker* (2 keer), Ernst Conradie* (2 keer) Izak de Villiers*, Berta Smit*, Coenie Burger*, Maretha Maartens*, TT Cloete*, Wentzel van Huyssteen*, Dirkie Smit*, Jan du Rand*, Robert Vosloo, Nico Koopman*, Allan Boesak* en Frits Gaum*en Barend Vos. Die prys bestaan uit ’n kontantbedrag, ’n goue penning en ’n oorkonde, en word jaarliks in die omgewing van 9 Mei, Andrew Murray se geboortedatum, oorhandig. Mettertyd het die behoefte ontstaan om die pryskategorieë uit te brei, en Andrew Murraypryse en –toekennings word sedert 2006 van tyd tot tyd toegeken vir hoogstaande werk in Afrikaans op ander media-terreine (joernalistiek, radio, klank-en-beeld). So het Neels Jackson* in 2013 ’n spesiale toekenning ontvang vir sy werk as godsdiens- en kerksakeverslaggewer van Media24 se koerante, en wyle Adri-Louise van Renen-Fourie* in 2014 vir haar buitengewone bydrae tot die Afrikaanse kerklike/godsdienstige joernalistiek. Die Andrew Murray-FAK-toekenning word sedert 2016 gemaak vir uitsonderlike bydraes ten opsigte van Christelike musiek. Chris Lamprecht was in dié jaar die eerste ontvanger van hierdie toekenning.

In 2007 is die Andrew Murray-Desmond Tutu-pryse ingestel vir media in enige van die amptelike tale van Suid-Afrika van wie die skrywer/produsent ’n Suid-Afrikaanse burger is (dubbele burgerskap is in orde). Die verbintenis van die name van Andrew Murray en Desmond Tutu* op hierdie wyse is as ’n besondere gebaar van versoening beskou. Onder die wenners van dié prys tel John de Gruchy* (3 keer), Wentzel van Huyssteen*, Piet Naudé*, Paddy Kearney en Michael Lapsley*.

In 2014 is die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir opkomende Christelike skrywers wat in ’n amptelike taal van Suid-Afrika skryf, ingestel. Die koppeling van die naam van Tutu aan dié van die briljante dog vroeggestorwe Afrikaanse teoloog, Gerrit Brand*, wat in 2013 op 42-jarige ouderdom oorlede is, is ook as ’n betekenisvolle versoeningsgebaar gesien.

Al dié pryse en toekennings word tuisgebring onder die sambreel van die Andrew Murray-prysfonds wat “uitnemendheid in die Christelike media wil bevorder deur die bekroning van werke van hoogstaande gehalte in Afrikaans en ander tale van Suid-Afrika”. Die ledevergadering van die prysfonds bestaan uit verteenwoordigers van instansies wat tot die fonds  bygedra het, en die administrasie daarvan word deur Bybel-Media* en CLF* behartig.

Vir verdere inligting, besoek: www.andrewmurrayprys.co.za en www.andrewmurrayprize.co.za

 

Sidebar