ANGLICAN CHURCH OF SOUTHERN AFRICA

ANGLICAN CHURCH OF SOUTHERN AFRICA (voorheen die Church of the Province of Southern Africa) se vroegste wortels in Suid-Afrika loop terug tot die Britse besetting van die Kaap in 1806. Dié kerk verteenwoordig die hoofstroom van die Protestantse* Anglikanisme* in Suid-Afrika en is “hoogkerklik” (neig na die Katolieke* kerkstyl) in instelling en oriëntasie. Dit staan naas en in ’n sekere opsig teenoor die veel kleiner groepering, die Church of England in South Africa* (CESA). Die verdeling en afsplitsing van hierdie twee kerklike groeperings is in ’n sekere sin vergelykbaar met die verdelings in die Afrikaanse gereformeerde* familie. Die proses van afsplitsing het tussen 1863 en 1870 plaasgevind en dit het veral gewentel rondom spannings tussen biskop Robert Gray* en biskop William Colenso*. Gray, ’n sg Tractarian, het sterker in die hoogkerklike tradisie gestaan en het meer klem gelê op die Katolieke aksente in die kerk. Colenso, wat nie die gesag van Gray aanvaar het nie, het die weg gebaan vir die Suid-Afrikaanse Church of England met sy “laagkerklike” of meer Protestantse aksente. Die Anglikaanse Kerk, wat onder andere groot sending*- en onderwysaksies in Suid-Afrika geloods het en sterk standpunt ingeneem het teen die apartheidsbeleid*, het ’n lidmaattal van ongeveer 1,4 miljoen in Suid-Afrika. Dié kerk se rol in die apartheidsera, en die prominensie van Nobel-Vredespryswenner aartsbiskop* Desmond Tutu* in daardie tyd en ook daarná, het meegebring dat dit besonder invloedryk geword het.

Die Anglikaanse Kerk se leer is gebaseer op die Apostoliese Geloofsbelydenis*, die Geloofsbelydenis van Nicea* en die Thirty Nine Articles*. Die liturgie* volg die Book of Common Prayer (1662) en die South African Anglican Prayer Book (1989). Die huidige (2015) aartsbiskop, met sy ampsetel in Kaapstad, is biskop Thabo Makgoba*.

(Kyk ook: Anglikaans)

Sidebar