ANGLIKAANS

 verwys na die Kerk van Engeland, die amptelike staatskerk in Engeland. Dié kerk het sy oorsprong in die Katolieke sending* na Kantelberg (Canterbury) in 597.’n Monnik*, Augustinus (nie Aurelius Augustinus* nie), het die kerk onder die Engelse (Latyn: Anglii) gevestig en is teen 602 as aartsbiskop* van Kantelberg aangestel. Koning Henry* (Hendrik) VIII het die band met die Katolieke Kerk* in 1534 verbreek om van sy vrou, prinses Katerina (Catherine) van Aragon, te skei omdat hulle nie ’n seun (troonopvolger) gehad het nie. Die invloed van die Reformasie* vanaf 1521 het ook in Engeland gegeld, en die Anglikaanse Kerk het onafhanklik van die Katolieke Kerk tot stand gekom.

Die leierskap van die Anglikaanse Kerk berus by die aartsbiskop van Kantelberg. Hy het nie pouslike gesag nie, en word as primus inter pares, eerste onder gelykes, erken. Die koning of koningin van Engeland is amptelik hoof van die kerk, “Defender of the Faith”. Elke provinsie of streekkerk wat in gemeenskap met Kantelberg staan, het sy eie aartsbiskop en streekbiskoppe wat elke tien jaar in die Lambeth-konferensie byeenkom om besluite te neem. In Suid-Afrika was hierdie kerk lank bekend as die Church of the Province in Southern Africa, maar dit is nou die Anglican Church of Southern Africa*.

As geloofsgrondslag geld die Bybel*, die drie ekumeniese belydenisse*, en die Thirty Nine Articles* met die Book of Common Prayer uit 1662. Die kerk beoefen sewe sakramente* en erken die ampte van biskop*, priester2* en diaken2*.

PJ Naudé

Sidebar