ANGLIKAANSE TEOLOGIE

ANGLIKAANSE TEOLOGIE. Die Anglikaanse gemeenskap glo dat hulle deel is van die “een, heilige, algemene en apostoliese kerk* van Jesus* Christus*”. Anglikaanse teologie het uit twee bene gegroei: ’n klem op Katolisisme* en daarnaas ’n beklemtoning van die Protestantse* puriteine*.

Daar is ’n hoogkerklike vleuel – met groot invloed in Suid-Afrika – sowel as ’n liberale vleuel wat hulle beywer vir die hervorming van die formuliere, die liturgie* en die kerk se ekumeniese* beskouing.

Die grondslae van die Anglikaanse teologie is opgesom in die liturgieë in die kerk se Gebedeboek van 1662 (Book of Common Prayer) en die Thirty-nine Articles* wat die Kerk van Engeland se belydenis bevat oor sake soos die uitverkiesing* en transsubstansiasie*.

Die drie beginsels waarop die Anglikaanse teologie bou, is te vinde in die Skrif*, die tradisie* en die rede. Die kerk is getrou aan die Skrif, en hou hom die reg voor om sy eie wette te maak solank as wat dit nie strydig met die Skrif is nie. Die kerk se tradisie is in die Vroeë Kerk gevorm en is gebaseer op talle gebruike en oortuigings wat uit die Middeleeue kom. Tradisie is die kerk se interpretasie van die Skrif en kan nie daarvan losgemaak word nie. Die oorsprong van die klem op die rede lê by die puriteine en die Verligting* met sy soeke na ’n eenvoudiger uitdrukking van die geloof.

Die poging om die uiteenlopende elemente van die Katolieke en Protestantse tradisies bymekaar te bring en die verdraagsaamheid teenoor uiteenlopende vorms van leer en praktyk, is tegelyk ’n bonus in terme van die ekumeniese lewe, maar ook ’n swakheid wat innerlik verdeeldheid meebring.

 

Sidebar