ANGLISERING IN KERK EN SKOOL

ANGLISERING IN KERK EN SKOOL. Die pogings van die Britse bewind in die Kaapkolonie om die Hollandse skole en kerke te verengels, was ’n ingrypende vorm van kulturele manipulasie om ’n klas van lojale “Empire”-gesindes te ontwikkel in ’n kolonie waar Engelssprekende koloniste in die minderheid was. In 1822 is aangekondig dat Engels ingefaseer sou word as amptelike taal van die regering, howe en regeringskole. Dit het later meegebring dat Hollands net as gewone vak gedoseer is. In 1865 is bepaal dat alle eersteklas- en tweedeklas-skole net Engels as voertaal moes gebruik. Dieselfde beleid was van toepassing by die Stellenbosch-Gimnasium en die latere Victoria-Kollege met onderwysers en professore wat nog meestal van Engelse of Skotse afkoms was. Die owerheid, wat ook die salarisse van predikante* gefinansier het, wou ook die kerk* verengels. Die Skotse* predikante wat ingevoer is, het egter meestal Hollands aangeleer om hulle gemeentes* effektief te bedien. Heelwat van hulle is met Hollandssprekendes getroud. In die tweede helfte van die 19de eeu het die gebruik van Engelse Sondagaanddienste algemeen in die Groote Kerk in Kaapstad geword, asook in verskeie ander gemeentes van die NG Kerk*. Dit is in die gemeente Kaapstad beëindig toe Jan Christiaan Hofmeyr (“Neusie”) ₤20 000 aan die gemeente bemaak het op voorwaarde dat daar Sondae minstens twee Hollandse dienste gehou word. In die 21ste eeu het daar ’n hernude “anglisering” in Suid-Afrika plaasgevind. Die land se openbare spreektaal het al hoe meer (“vrot”) Engels geword (hoewel daar elf amptelike landstale is), en as akademiese taal het dit by al die staats-gesubsidieerde universiteite die primêre taal geword. Die gevaar dat tale soos Afrikaans* ook op skoolvlak uitgedruk sal word, is lewensgroot.

Vir verdere lees: Robert Ross 1999. Status and Respectability in the Cape Colony, 1750–1870. Cambridge: Cambridge University Press. J du P Scholtz 1964. Die Afrikaner en sy taal. Kaapstad: Nasou.

 

Sidebar