ANGLO-BOEREOORLOG

ANGLO-BOEREOORLOG (1899–1902) (of Suid-Afrikaanse Oorlog) was ’n sentrale gebeurtenis in die Suid-Afrikaanse geskiedenis met sy diepgaande invloed op die 20ste eeu. Die oorlog was die onregstreekse gevolg van die Britse regering se persepsie dat sy internasionale prestige bedreig word deur die sneller ekonomiese ontwikkeling van veral Duitsland en Frankryk, asook vrees vir dié lande se invloed in die twee Boererepublieke. Die Britse betrokkenheid in Suid-Afrika – saam met die oorheersing van die Kaapse seeroete na Indië as die juweel in die Britse kroon – kon hierbenewens in gedrang kom.

Die Anglo-Boereoorlog het hoofsaaklik twee fases gehad – ’n konvensionele en ’n guerrillafase. Die Boere het aanvanklik Natal en die Kaapkolonie binnegeval om verdedigende posisies in te neem vóór die aankoms van Britse troepeversterkings. In Natal is ’n groot deel van die Boeremagte aangewend vir ’n nuttelose beleg van Ladysmith voordat die Boere op 27 Februarie 1900 by Pietersheuwel verslaan is. ’n Soortgelyke situasie het aan die westelike front ontstaan, waar Mafeking en Kimberley beleër is. Die Boere het slegs Stormberg suksesvol beset as een van die drie strategiese spoorwegaansluitings. Hoewel die Boere ook by Magersfontein die oorwinning behaal het, kon ’n flankbeweging van die Engelse weswaarts na Bloemfontein opruk. Dit het uiteindelik gelei tot die oorgawe van genl Piet Cronjé met 4 000 burgers by Paardeberg op 27 Februarie 1900.

Hierna is die Boeremagte tot in September stelselmatig in die Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) teruggedryf met die gevolglike vertrek van pres Paul Kruger* via Lourenço Marques na Europa. In die Vrystaat het genl Christiaan de Wet* in April 1900 met mobiele oorlogvoering begin, wat kort daarna deur die Zuid-Afrikaansche Republiek gevolg is. Met ’n steeds intenser guerrillastryd het die Boere twee keer die inisiatief probeer herwin deur die Kaapkolonie en Natal onsuksesvol binne te val. Lord Kitchener, wat in September 1900 vir lord Roberts as Britse bevelvoerder opgevolg het, het die Boeremagte se posisie algaande verswak en geïsoleer: hy het sy infanterie met berede kolonne vervang en die Boere se beweeglikheid aan bande gelê deur blokhuislinies. Kitchener wou ook die twee Boere-Republieke vernietig deur die burgerlike bevolking – wit én swart – op reuse skaal na konsentrasiekampe te verskuif.

Uit ’n militêre oogpunt was dié maatreëls geslaag en teen Mei 1902 was die kommando’s totaal uitgeput. Die Britse vredesvoorwaardes by Vereeniging moes noodgedwonge deur die twee Boererepublieke aanvaar word. Die vernedering en oorlogstrauma op kommando en in die konsentrasiekampe wat grootliks tot verarming aan Boerekant bygedra het, het die politieke posisie hierna vir dekades oorheers. Die meedoënlose manier waarop die Britse magte die oorlog gevoer het, het ook Afrikaner-nasionalisme* geradikaliseer, wat in die laat-19de eeu nog tekens van ’n liberale ontwikkeling getoon het. Dit het die betrekkinge tussen Afrikaans- en Engelssprekende Suid-Afrikaners lank versuur en die gedagte onder die Afrikaners* laat posvat dat hulle die land polities moes oorheers om te oorleef. Dit was een van die belangrikste oorsake vir die apartheidsbeleid*.

Die Anglo-Boereoorlog het die Boere se geloof in God en hulle verbintenis aan die kerk* grootliks getoets. Terwyl hulle in die algemeen gelowig gebly het, het dit in sommige gevalle daarmee skeefgeloop – soos uitgebeeld in Sonja Loots se bekroonde roman, Sirkus-Boere. Ná die oorlog het die NG Kerk* in die gepaardgaande kerklike, maatskaplike, kulturele en ekonomiese opheffing ’n deurslaggewende rol gespeel. (Kyk ook: Steynberg, Coert.)

In November 2015 is die Anglo-Boereoorlog volgens berigte deur die regering amptelik hernoem na die Suid-Afrikaanse Oorlog, maar later is ontken dat dit “amptelik” gedoen is.

 

Sidebar