ANIMISME

ANIMISME kom van die Latynse woord anima wat siel of asem beteken. Dit is die opvatting dat alles in die natuur, net soos ’n mens, ook ’n siel* het. Hiermee word die animisme ’n natuurreligie en die basis word gelê vir voorvaderaanbidding, die verering van die aarde, diere, bome, klippe, ens. Hierby kom ook die geloof dat hierdie objekte oor toorkrag beskik en daarom gerespekteer moet word.
Ondersteuners van die animisme huldig die standpunt dat die Ou Testament* elemente hiervan bevat. ’n Voorbeeld wat genoem word, is die verwysings in Gen 9:4 en Lev 17:11 dat vleis met bloed (geassosieer met lewe) van ’n dier nie geëet mag word nie. Die animisme berus op ’n verkeerde verstaan van die Hebreeuse* woord nefesj (“siel”). Hoewel dié woord vry vertaal word met die woord “siel”, beteken dit letterlik keel of nek. Dit dui dan verder op wat deur die keel gaan, naamlik asem. Asem word met lewe of lewenskrag vereenselwig. Die gebruik hiervan in Gen 1:20, 30 word dus verstaan asof aan die dier ook ’n siel gegee is. Die werklike bedoeling is egter eerder dat die dier ook lewenskrag het.

Sidebar