ANONIEME CHRISTENE

ANONIEME CHRISTENE. Orals in die wêreld word die kerk gekonfronteer met die vraag na die moontlikheid van heil in nie-Christelike godsdienste. Kan mense wat toegewy is aan hulle eie godsdiens, maar Jesus* Christus* nog nooit leer ken het nie, ook gered word? Karl Rahner*, ’n teoloog van die Katolieke Kerk*, het gedurende die 1960’s die term “anonieme Christene” begin gebruik om na sulke mense te verwys. Hand 17:23 word in hierdie verband aangehaal. Die vereerders van die “anonieme Christus” is dus anonieme Christene; hulle dien Christus as ’t ware “indirek”. Hulle is lede van die sg “latente kerk”. Dit wat nog “anoniem” en “latent” is, moet wel later op die een of ander manier bekend en eksplisiet word. Dit beteken egter nie dat Christus nie werklik reeds in hulle lewe teenwoordig is en dat hierdie mense se geloof nie eg is nie. Op hierdie manier word dit moontlik om te handhaaf dat Jesus Christus die enigste Saligmaker is sonder om terselfdertyd mense wat toegewy is aan hulle eie godsdiens, maar nog nooit die geleentheid gehad het om Christus te leer ken nie, te verdoem tot verlorenheid. Rahner se beskouing het veral binne Katolieke kringe byval gevind.

 

Sidebar