ANREITH, ANTON

 (1754–1822), ’n Duitser wat opgelei was in beeldhouwerk, houtsnywerk en wiskunde, kom in 1777 in Kaapstad aan, waar hy as arbeider begin werk. In 1786 word hy meesterbeeldhouer. Dié werk bring hom in aanraking met die argitek Louis Michel Thibault*, vir wie hy baie opdragte uitvoer.

Anreith versier die Lutherse Kerk* in Kaapstad met Kaapse barok-rokoko-beeldhouwerk, en kerf die preekstoel van die Groote Kerk in Adderleystraat uit hout. Hy maak die kroonstuk vir Groot Constantia se wynkelder en verskeie reliëfwerke in die Kasteel de Goede Hoop, onder andere op die “Kat”-balkon. Hy skep sewe beelde, groter as lewensgrootte, vir die Vrymesselaarslosie De Goede Hoop, en die twee leeus langs Goewermentslaan in Kaapstad.

In 1805 stig Anreith die eerste kunsskool in Suid-Afrika, en word in 1814 hoof van die Tegniese Skool wat deur die losie De Goede Hoop gestig is. Dié skool hou in 1816 die eerste kunsuitstalling in Suid-Afrika. Hier lei Anreith Suid-Afrika se eerste argitek op (GH Teubes), sowel as landmeters en ’n kunstenaar, en gee wiskunde-onderrig.

Anreith se laaste twee groot opdragte was die standbeelde van Neptunus en Britannia op die Nuwe Doeanehuis, en die reliëfwerke op die geweldriehoek van die Ou Hooggeregshof.

 

Sidebar