ANSKAR

ANSKAR (801–856) was die “Apostel van die Noorde”. Hy is in Frankryk gebore en het sy opleiding aan die Benediktynse klooster* van Corbie ontvang. Anskar was ’n mistikus (Kyk by: Mistisisme) en ’n dromer wat ’n sterk sending*roeping ervaar het. Daarom het hy in 826 op uitnodiging van koning Harold sendingwerk in Denemarke gaan doen. Nadat hy én Harold drie jaar later uit Denemarke verban is, is Anskar deur koning Björn genooi om sy werk in Swede voort te sit. Uiteindelik het keiser Lodewyk die Vrome Anskar aangestel as aartsbiskop van Hamburg. Toe die Deense koning Erik I in 845 Hamburg aangeval en vernietig het, moes Anskar vlug, maar hy is later weer aangestel as aartsbiskop van beide Hamburg en Bremen.

Anskar was in sy hart ’n askeet*, maar in sy bediening baie betrokke by die nood van mense. Hy het van sy monnike* verwag om gedurig besig te bly en het volgens oorlewering selfs gebrei terwyl hy gebid het. Hy het hospitale opgerig en hom beywer vir die bevryding van slawe*. Ongelukkig was sy bediening dikwels belemmer deur politieke omstandighede, en ná sy dood het die Skandinawiërs teruggekeer na hulle tradisionele (nie-Christelike) godsdiens.

Vir verdere lees: RA Tucker 1983. From Jerusalem To Irian Jaya. Grand Rapids: Zondervan.

 

Sidebar