ANTHONISSEN, CAREL AÄRON

ANTHONISSEN, CAREL AÄRON (1948–) het op Calvinia grootgeword. Hy studeer op Stellenbosch en begin sy bediening as NG Kerk*-predikant op Somerset-Oos, waarna hy sy werk in Aasvoëlkop (Johannesburg) en die Stellenbosse Studentekerk voortsit. Hy studeer verder onder Wolfgang Hüber in Heidelberg, Duitsland, en promoveer in dogmatiek* oor die teologie van Dietrich Bonhoeffer*. Anthonissen was profeties betrokke by die problematiek van die breër Suid-Afrikaanse samelewing, veral nadat hy met Beyers Naudé* bevriend geraak het. Hy neem studentegroepe van Stellenbosch op ekumeniese* blootstellingstoere. In die middel-1980’s word sy paspoort ingevolge veiligheidsregulasies ingetrek, maar later ontmoet hy wel met die African National Congress (ANC) in die buiteland. In 2005 word Anthonissen die eerste nie-Anglikaanse direkteur van die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit* wat fokus op die bevordering van meditatiewe Christelike spiritualiteit en deur die toedoen van Desmond Tutu* tot stand gekom het. Onder sy leiding word die sentrum meer ekumenies* en groei ook in die Afrikaanse gemeenskap. Anthonissen bly betrokke by geregtigheidskwessies soos die ondersteuning van gay* en lesbiese mense en hulle families. Self nie gay nie, het hy in 1999 ’n groot aandeel gehad aan die opspraakwekkende verslag oor homoseksualiteit* wat voor die Wes-Kaapse sinode van die NG Kerk gedien het en wat hierdie saak pertinent op die tafel van dié kerk geplaas het. Hy is saam met Pieter Oberholzer* die skrywer van Gelowig en gay? (1999).

 

Sidebar