ANTICHRIS

ANTICHRIS. Die naam “Antichris” kom net in die Briewe van Johannes* voor (1 Joh 2:18, 22; 4:3; 2 Joh :7), maar dit word taamlik algemeen aanvaar dat daar ook ander verwysings na hom is soos “’n gruwel wat verwoesting aanrig” (Matt 24:15; vgl ook Dan 9:27; 11:31; 12:11), “die wettelose mens” (2 Tess 2:3-12), en “die dier uit die see” (Op 13:1-10). Die meeste Christene aanvaar dat hy kort voor die wederkoms* van Christus* sal verskyn en die leiding sal neem in die groot verdrukking*. Die verwysings in die Briewe van Johannes waarvolgens hy alreeds in Johannes se tyd verskyn het, word gewoonlik verklaar as verwysings na “voorlopers” van die Antichris.

Dit lyk asof Johannes bedoel het dat die Antichris werklik alreeds in sy tyd verskyn het in die vorm van persone wat die evangelie* radikaal ontken en teenstaan. Dit sou verband kon hou met die feit dat die “laaste dae”* in die Nuwe Testament* altyd verwys na die tyd waarin Jesus* en die apostels* geleef het, en dat die apostels toe al verkondig het dat die wederkoms van Christus naby is. Dit kom ooreen met die feit dat die tekens van die tye* voortdurend sedert die hemelvaart* voorgekom het, sodat hierdie tekens ons nie inlig wanneer Christus se koms naby sal wees nie, maar dat Hy enige oomblik weer kan kom.

 

Sidebar