ANTIOGIË IN PISIDIË

ANTIOGIË IN PISIDIË was ’n stad in die suide van sentraal-Klein-Asië* gestig in die 3de eeu vC deur een van die Seleukiede konings. In 25 vC lyf keiser* Augustus* dit by die nuwe Romeinse provinsie, Galasië*, in en herstig Antiogië as ’n Romeinse kolonie (Kyk by: Romeinse Ryk). Baie Romeinse militêre veterane het hulle hier gevestig. In hierdie tyd is die stadskern versier met pragtige geboue wat in die keiserkultus gebruik is. Die stad se toonaangewende families het ook belangrike posisies in die Romeinse militêre en administratiewe hiërargie bekom. Sy elite was onder die eerstes uit die ooste wat senaatslede in Rome* geword het.

Tydens Paulus* se sendingreise het Antiogië sy hoogbloei gehad. Paulus se sending*prediking onder die Jode* word nêrens elders so uitvoerig gerapporteer soos in Antiogië nie (Hand 13:14-52). Die Jode was afgunstig op die groot opkoms in die sinagoge* en het vooraanstaande vroue en ander leiers oorreed om Paulus en Barnabas* uit die stad te verjaag. By drie ander geleenthede besoek Paulus weer die stad (14:21; 16:1-6; 18:23 – lg twee by implikasie). Vandag weet ons dat Sergius Paulus*, die goewerneur van Siprus*, wat onder Paulus se prediking gelowig geword het (13:7, 12), van Antiogië gekom het.

 

Sidebar