ANTIOGIË IN SIRIË

ANTIOGIË IN SIRIË. Seleukus Nikator, een van Aleksander* die Grote se generaals, stig in 301 vC Antiogië (nou Antakya in Turkye) aan die Orontesrivier waar die Libanon- en Taurusgebergte bymekaarkom (asook 15 ander stede met dieselfde naam) ter ere van sy pa Antiogus*. Net in Sirië was daar vyf stede met dieselfde naam. In 64 vC verower Pompejus Antiogië en word dit die hoofstad van die Romeinse provinsie Sirië, met ’n bevolking van ongeveer 500 000 die derde grootste stad in die Romeinse Ryk*. Dit was ’n stad met pragtige geboue en is die “Koningin van die Ooste” genoem. Dit was 30 km van die Middelandse See af en 500 km noord van Jerusalem* geleë. Daar was ’n groot Joodse* bevolking met ’n sinagoge*. Die gelowiges* is hier vir die eerste keer “Christene*” genoem (Hand 11:26). Paulus* en Barnabus* word hiervandaan op hulle eerste sending*reis gestuur. Die Matteus*-Evangelie kan moontlik met Antiogië verbind word. In die Vroeë Kerk is Antiogië ook bekend weens die biskop en martelaar Ignasius* (†110) asook vir die verset van die Antiogeense skool (Teodorus* van Mopsuestia en Johannes Chrusostomos*) teen die allegoriese* verstaan van die Bybel* deur die skool van Aleksandrië.

 

Sidebar