ANTIOGUS IV

ANTIOGUS IV. Ná die val van Aleksander*1 (322 vC) is sy ryk verdeel tussen die Diadogi (opvolgers), die generaals van die Masedonies-Persiese ryk. Dit is in drie dele verdeel. Antigonis het Klein-Asië* en omstreke gekry, Seleukos Siro-Palestina en Ptolomeus vir Egipte. Robuuste veranderings is deur die Diadogi aangebring. Palestina* het erg onder die eksterne verdrukking gely. Vir ’n eeu (300–200 vC) het die Ptolomeërs oor die gebied geheers en daarna tot die koms van die Romeine (63 vC), die Seleukiede. Die mees aggressiewe Seleukied was Antiogus IV. Hy het tussen 175 en 164 vC in Palestina geheers en het doelgerigte pogings aangewend om Jerusalem* in ’n Griekse stad te verander. Hy het vir Jason (Griekse naam vir Josua) as hoëpriester aangestel. Gedurende hierdie tyd is ’n gimnasium in Jerusalem geopen waar die Griekse lewenswyse beoefen is – tot groot onvergenoegdheid van die ortodokse inwoners. Antiogus het dringend finansiële bronne benodig vir sy ekspedisies en het die tempel* geplunder. Hy het ook godsdienstige vervolging in Juda*4 ingestel en het by geleentheid varkvleis op die altaar in die tempel geoffer. Hierdie anti-Joodse optredes het direk aanleiding gegee tot die Joodse opstande deur die Makkabeërs*.

 

Sidebar