ANTISEMITISME

ANTISEMITISME is ’n benadering in terme waarvan die Jode* (die vermeende nageslag van Noag* se seun Sem*, vgl Gen 9–10) verag word. Jode is in stadiums van sowel Engeland as Spanje se geskiedenis uit daardie lande verdryf. Die 20ste eeu is die tydperk waarin antisemitisme tot die uiterste gevoer is. Die eerste blyke daarvan was tydens die “Dreyfus affair” in Frankryk aan die begin van die eeu, toe ’n Joodse weermagkaptein met die naam Dreyfus, hoewel hy onskuldig was, aan hoogverraad skuldig bevind is.

Die ergste uiting van antisemitisme was die optrede van Adolf Hitler* en sy Naziparty in Duitsland in 1933–1945. Hitler het die Jode as grondoorsaak van Duitsland se probleme beskou. Ná die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog* in 1939 is Jode in al die stede wat die Duitsers verower het, in ghetto’s bymekaargebring. Groot getalle is vermoor; baie het gevlug. Steeds was Hitler nie tevrede nie, en is besluit tot die sogenaamde “finale oplossing”: ongeveer 6 miljoen Jode is na uitwissingskampe soos Auschwitz vervoer en daar is hulle in gaskamers of andersins vermoor en veras.

Herinnerings aan hierdie uiterste vorm van antisemitisme stuur vandag nog rillings deur die wêreld, maar spore van Jodehaat kom nog sporadies en plek-plek voor.

Vir verdere lees: Paul Johnson 1987. History of the Jews. Londen: Weidenfeld & Nicholson.

 

Sidebar