ANTITRINITARIËRS

ANTITRINITARIËRS. Daar was van die begin van die kerkgeskiedenis* af en herhaaldelik daarna heftige verset teen die leer van die Drie-eenheid* van God. Al hierdie teenstanders kan “antitrinitariërs” genoem word, dit wil sê mense wat teen (anti-) die Drie-eenheid (Triniteit) standpunt ingeneem het.

In die vroeë Christelike kerk* was daar veral twee antitrinitariese stromings:

  1. Die modalisme* van bv Sabellius, wat geleer het dat Vader, Seun en Gees nie drie selfstandige Persone is nie, maar slegs verskillende “maskers” waarmee die een God optree.
  2. Die subordinasianisme* van bv Arius*, wat nie wou erken dat die Seun (en die Gees) van dieselfde wese as die Vader is nie, en daarom ondergeskik aan God is.

In die tyd van die Reformasie* was daar weer die Sociniane wat selfs ’n antitrinitariese kerk in Pole – kompleet met ’n eie kategismus* – gestig het, en Servet* wat vir kettery* in Genève skuldig bevind is en op die brandstapel gesterf het. Hy het die Drie-eenheid ’n “monster met drie koppe” genoem.

In die tyd van die Verligting* en daarna is oral unitariese* (dit wil sê antitrinitariese) kerke gestig. By hulle word die klassieke versoeningsleer met ’n moralistiese navolging van Jesus* vervang. Ook die Jehova-getuies* is antitrinitaries omdat hulle die Godheid van Christus* ontken.

 

Sidebar