ANTROPOLOGIE

ANTROPOLOGIE. Die begrip “antropologie” het verskillende betekenisse. Basies beteken die woord die “leer oor of wetenskap van die mens” of “menskunde” (afgelei van die Griekse woorde anthropos: mens, en logos: woord of leer). Die bekendste betekenis van die begrip is dié van ’n sosiale wetenskap wat in noue samehang met die sosiologie beoefen word. Hierdie wetenskap het twee vertakkings, naamlik kulturele en sosiale antropologie. Eersgenoemde is die bestudering van die kulturele groeperings waarin mense hulleself tradisioneel bevind. Sosiale antropologie bestudeer maniere waarop die mens universeel sigself sosiaal organiseer, bv deur die ontwikkeling van familiestrukture, tegnologie, godsdienstige bewegings en verskillende vorms van kulturele kreatiwiteit.

In die konteks van die filosofie as dissipline behels antropologie veral die ontwikkeling en kritiese beoordeling van ’n aantal wysgerige mensbeelde, bv die materialistiese*, spirituele*, Marxistiese* en eksistensiële* mensbeeld. Antropologie is egter ook ’n onderafdeling van die dogmatiek* of sistematiese teologie. Hier gaan dit oor die vraag hoe ons oor die mens* in terme van die Bybelse voorstellings behoort te dink. Dit behels nadenke oor die implikasies daarvan dat die mens in die Bybel* voorgestel word as ’n (oorspronklike volmaakte) skepping van God wat in sonde* verval het en aangewese is op die verlossingswerk van Christus*.

Vir verdere lees: M Landman 1976. Filosofische Antropologie. Antwerpen: Het Spectrum.

 

Sidebar