APARTHEID

APARTHEID kan verduidelik word deur dit te vergelyk met ’n verwante begrip, segregasie*. Die beleid van segregasie kan in Suid-Afrika teruggevoer word tot in die 19de eeu. Dit was ’n verlengstuk van die Europese standebewussyn wat in Suid-Afrika deur die draers van die Europese lewenstyl, die blankes, toegepas is. Die segregasiebeleid was daarop gemik om die natuurlike skeidings tussen groepe te bestendig, maar dit het sulke skeidings nie absoluut afgedwing nie. Dit het bestaande groepvorming gereël sonder om noodwendig alle indiwidue aan die reëlings te onderwerp. Die beginsel van vrye assosiasie is ’n belangrike element van segregasie. Segregasie was die aanvaarde beleid van al die regerings van Suid-Afrika tussen 1910 en 1948. Dit is ook (met sekere voorbehoude) onderskryf deur vooraanstaande swart leiers, onder wie presidente van die ANC.

Apartheid was die slagspreuk waarmee dr DF Malan* se Nasionale Party in 1948 aan die bewind gekom het. Apartheid het meer beoog as blote segregasie. Apartheid verskil van segregasie daarin dat dit onder ideologiese* bekoring die reeds bestaande tradisie van segregasie absoluut gemaak, konsekwent uitgebrei en allesomvattend toegepas het. In die praktyk het dit onder meer beteken: rasseklassifikasie, die skep van tuislande, groepsgebiede, instromingsbeheer en paswette, gedwonge verskuiwings, ’n verbod op gemengde huwelike en afsonderlike geriewe.

Heftige swart reaksie het reeds in die eerste dekade van apartheid begin opbou. Die protesoptrede van die 1940’s was veral deur die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (1921) geïnisieer wat ’n beduidende blanke verteenwoordiging in sy leierskapkring gehad het. Die Defiance Campaign (1952–1953), Sharpeville- en Langa-opstande (1960), die Soweto-onluste (1976–1977) en die landwye onrus in 1984–1986 het getoon hoe diep die legitimiteitskrisis in die destydse samelewing geword het. Terwyl die NG Kerk* en die Ned Herv Kerk* in hulle amptelike hoedanigheid verantwoordelik was vir ’n teologiese ontwerp wat apartheid wou regverdig, het daar reeds vanaf 1948 uit kerklike geledere ’n protesstem teen apartheid gegroei. Dié kerklike protesstem het sy klimaks bereik by die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke* se vergadering in 1982 by Ottawa waar die teologiese regverdiging van apartheid tot kettery* verklaar is. Sedertdien het die NG Kerk by wyse van sinodebesluite apartheid as sonde verklaar en ook skuld bely vir sy aandeel daaraan.

Hierdie en talle ander optredes het daartoe gelei dat politieke partye in die 1990’s ontban is, politieke gevangenes vrygelaat is en onderhandelings tussen die regerende Nasionale Party en die meeste belanghebbendes in Kemptonpark (Kodesa 1991) begin het, wat uiteindelik uitgeloop het op die eerste vrye, demokratiese verkiesing op 27 April 1994 en ’n nuwe, post-apartheid Suid-Afrika gebore is.

Vir verdere lees: Johann Kinghorn (red) 1986. Die NG Kerk en apartheid. Johannesburg: Macmillan. Frits Gaum vir die Algemene Sinodale Kommissie van die NG Kerk 1997. Die verhaal van die Ned Geref Kerk se reis met apartheid 1960–1994: ’n Getuienis en ’n belydenis. Wellington: Hugenote-Uitgewers; Piet Meiring 1999. Kroniek van die Waarheidskommissie: Op reis deur die verlede en die hede na die toekoms van Suid-Afrika. Vanderbijlpark: Carpe Diem.

 

Sidebar