APARTHEIDSTEOLOGIE

APARTHEIDSTEOLOGIE. Die Afrikaanse kerke, by name die NG Kerk*, het vir die grootste gedeelte van die 20ste eeu die politieke beleid van apartheid* met teologiese argumente probeer regverdig. Die rede daarvoor moet onder meer in die godsdienssin van Afrikaners* gesoek word: ’n politieke beleid, soos alles in die lewe, moet Bybels* geregverdig kan word. Veral in die 1930’s en 1940’s was daar onder die Afrikaners tegelykertyd ’n oplewing van volksnasionalisme en neo-Calvinisme. Laasgenoemde lewensbeskouing het beklemtoon dat alles wat ons doen, tot eer van God moet wees – ook die sosiale ordening en die politieke bestel. In aansluiting hierby het bekende gereformeerde* teoloë met eksegetiese en dogmatiese argumente die Skriftuurlikheid van die beleid van apartheid probeer aantoon, onder wie JD du Toit (Totius)*, EP Groenewald*, FJM Potgieter*, AB du Preez en AD Pont*. Hulle hoofargument was dat nie net enkele Bybelverse (Gen 11; Deut 32:8; Hand 17:26) nie, maar die deurlopende boodskap van die Skrif is dat God die verskeidenheid van volke gewil het, en dat ons dit moet eerbiedig. Verskeidenheid in die kerk* se samestelling is ook beklemtoon, met ’n kerk vir elke volksgroep as die ideaal.

Intussen het kritiek op die apartheidsteologie nie uitgebly nie. In die geledere van die NG Kerk het teoloë soos BB Keet*, BJ Marais* en CFB Naudé* hulle sterk daarteen uitgespreek. Die Cottesloe-kerkeberaad* van 1960 (wat onder leiding van die Wêreldraad van Kerke* gehou is) het daarby aangesluit, en die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke* het in 1982 dié soort teologie kettery* genoem en die NG Kerk en Ned Herv Kerk* as lede geskors. As ’n teenvoeter vir die apartheidsteologie het die NG Sendingkerk (die latere Verenigende Gereformeerde Kerk*) in 1986 die Belydenis van Belhar* aanvaar. Dieselfde jaar het die NG Kerk se Algemene Sinode ook die teologiese regverdiging van apartheid afgewys met die beleidsdokument Kerk en samelewing, en ook erken dat die kerk in die verlede nie genoegsaam rekening gehou het met die eise van die liefdesgebod, geregtigheid en die lyding wat apartheid in die praktyk veroorsaak het nie. Pro-apartheidsondersteuners wat hulle nie met Kerk en samelewing kon vereenselwig nie, het in 1987 die Afrikaanse Protestantse Kerk* gestig.

In die 1990’s het die NG Kerk verskeie kere om verskoning gevra vir sy vroeëre ondersteuning van die apartheidsteologie en apartheid as sodanig: in 1990 met ’n tweede uitgawe van Kerk en samelewing, tydens die Rustenburg-kerkeberaad* in November daardie jaar, in 1994 met die “Sinode van Versoening”*, en in 1997 met Die NG Kerk se reis met apartheid.

In lg publikasie het die kerk “teenoor lidmate, oud en jonk” erken “dat die leiding wat kerklike vergaderings ten opsige van samelelewingsake gegee het, in die afgelope dekades soms te kort geskiet het. Dáároor is ons diep en opreg jammer” (bl 73, 74). Dié publikasie het ook op die tafel van die Waarheids-en-Versoeningskommissie* beland.

Uiteindelik, nadat die Algemene Sinode in 1998 formeel erken het dat apartheid wesenlik verkeerd is, is die NG Kerk weer toegelaat as lid van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (later bekend as die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke*). In 2016 het dié kerk ook weer volle lid van die Wêreldraad van Kerke geword.

Vir verdere lees: Algemene Sinodale Kommissie 1986 en 1990. Kerk en Samelewing. Pretoria. Algemene Sinodale Kommissie 1997. Die NG Kerk se reis met apartheid 1960-1994: ’n Getuienis en ’n belydenis. Wellington: Hugenote-uitgewers. Heyns, JA 1989. Teologiese etiek 2/2 Pretoria: NGKB. J Kinghorn, (red) 1986. Die NG Kerk en apartheid. Johannesburg: Macmillan.

 

Sidebar