APOKALIPTIEK

APOKALIPTIEK is ’n literatuursoort wat in die Hellenistiese Judaïsme* en in die vroeë Christendom* voorkom (ongeveer 200 vC tot 200 nC; Kyk ook: Hellenisme*). Die woord is afgelei van apokalupsis, Grieks* vir “openbaring*”. Die geskiedenis se verloop word in ’n openbaring onthul, met as hoogtepunt die lyding* van Israel* of die kerk* (in Christelike apokaliptiek). Hierdie lyding sluit oorloë, vervolging, hongersnood en natuurrampe soos aardbewings in, maar gewoonlik gryp God in met ’n finale oorwinning oor die Bose*. Die geskiedenis word in simboliese taal uitgebeeld, waarin diere en getalle ’n belangrike rol speel.’n Apokaliptiese geskrif kan dikwels dateer word deurdat die geskiedenis tot op ’n punt (toe die geskrif ontstaan het) herkenbaar is, maar daarna baie vaag en simbolies raak. In die Ou Testament* is gedeeltes met apokaliptiese elemente (bv Eseg 37–48, Sag 12–14, Dan 7–12, Jes 66), wat dáárin van klassieke apokaliptiese geskrifte verskil dat dit God se ingrype in die geskiedenis verwag, en nie as ’n beëindiging van die geskiedenis gesien word nie. Joodse apokaliptiese geskrifte is Henog, 2 Barug, 4 Esra, die Testament van Moses, die Apokalips van Moses. In die Nuwe Testament* is Die Openbaring* aan Johannes* ’n voorbeeld van Christelike apokaliptiek.

Vir verdere lees: PGR de Villiers 1987. Leviatan aan ’n lintjie. Kaapstad: Lux Verbi.

 

Sidebar