APOKRIEF

APOKRIEF kom van apokryphos (Grieks*) wat “weggesteek, verborge” beteken. In die eerste eeue het gnostiese* skrywers hulle kosbare geheime geskrifte wat alleen vir die binnekring van ingewydes bedoel was, so genoem. Later het die woord in die kerkgeskiedenis* ’n tegniese term geword vir geskrifte wat nie deel van die Ou Testament* en later van die Nuwe Testament* uitgemaak het nie. Daar moet onderskei word tussen die Ou-Testamentiese apokriewe boeke en die Nuwe-Testamentiese apokriewe boeke. Sommige van die Ou-Testamentiese apokriewe is in die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuaginta*, opgeneem en later in die vierde eeu ook in die Latynse vertaling van die Bybel*, die Vulgaat*. Dit is die Bybel van die Katolieke Kerk*. In hedendaagse taalgebruik staan die woord “apokrief” teenoor die woord “kanoniek” en het dit ’n soort deknaam vir ekwivalente geskrifte uit die tyd van die ontstaan van die Ou en Nuwe Testament geword wat nie in die kanon* (66 aanvaarde boeke van die Bybel) opgeneem is nie. In die geval van die Nuwe Testament sluit dit ook die geskrifte in wat onder ’n vals naam versprei is (die sg pseudepigrafiese boeke*), soos die Evangelie van Petrus*, die Handelinge van Paulus* en die Petrusopenbaring.

(Kyk ook by: Apokriewe boeke.)

 

Sidebar