APOKRIEWE BOEKE

Apokriewe boeke, ook bekend as die deutero-kanonieke boeke, is ʼn aantal boeke wat nie deel van die kanon* van die Ou* en Nuwe* Testament in die Protestantse* Bybel* is nie, terwyl van hulle wel deel vorm van die Katolieke* Bybel. Die woord “apokrief” beteken “verborge”. Hulle is verborge weens hulle uitsonderlike karakter of omdat hulle verdien om weggesteek te word, in die sin dat hulle nie deel van die kanon is nie. In die Nederlandse Geloofsbelydenis*, Artikel 6, word die volgende dertien boeke gelys as apokriewe: 3 en 4 Esra (Esra* en Nehemia* geld dan as 1 en 2 Esra), Tobias, Judit, die Wysheid van Salomo, Jesus Sirag (ook bekend as Ekklesiastikus), Barug (insluitend die Brief van Jeremia as Barug 6), die Byvoegsel by die Geskiedenis van Ester (Est 10:4–16:24), die Gebed van die drie manne in die vuur (Dan 3:24-90), die Geskiedenis van Susanna (Dan 13), die Beeld van Bel en van die Draak (Dan 14), die Gebed van Manasse en 1 en 2 Makkabeërs. Soms word die Brief van Jeremia en die Geskiedenis van Bel en die Draak as aparte boeke beskou, wat ʼn totaal van vyftien gee. Die Nederlandse Geloofsbelydenis voeg hierby dat die boeke wel gelees mag word, en dat selfs lering daaruit geneem mag word as hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hierdie boeke is deel van die Vulgaat*, die amptelike Bybel van die Katolieke Kerk. Die meeste van hulle het in die Vulgaat gekom via die Septuaginta*, die ou Griekse* vertaling van die Hebreeuse* Ou Testament. Hulle was egter nooit deel van die Hebreeuse Bybel nie.

Hierdie boeke moet onderskei word van die sogenaamde pseudepigrafiese boeke (boeke onder ’n vals naam geskryf, soos die verskillende boeke van Enog, die Psalms van Salomo en 3 en 4 Makkabeërs) en die Nuwe-Testamentiese apokriewe (Kyk hieronder). Dié twee groepe boeke het prakties in geen kerkgemeenskap enige amptelike status nie, terwyl die apokriewe boeke waarna die Nederlandse Geloofsbelydenis verwys, wel by sommige kerke status het, al is dit nie noodwendig op dieselfde vlak as die kanonieke boeke nie.

Hierdie boeke is tussen 300 vC en 100 nC deur Jode geskryf. Die oorspronklike boeke is in Hebreeus, Grieks of Aramees* geskryf, maar is grotendeels oorgelewer in Grieks en Latyn, terwyl hulle ook al vroeg in ander tale vertaal is, soos Siries* en Arabies. Van Jesus Sirag is daar in die moderne tyd ou Hebreeuse manuskripte gevind, sodat aangeneem kan word dat dié boek oorspronklik in Hebreeus geskryf was.

Die apokriewe boeke verteenwoordig verskillende literatuursoorte. 3 Esra, die Byvoegsel by die Geskiedenis van Ester, die Brief van Jeremia en 1 en 2 Makkabeërs is historiese boeke. Tobias, Judit en die Geskiedenis van Susanna, die Beeld van Bel en van die Draak, is lerend van aard. Die Gebed van die drie manne in die vuur en die Gebed van Manasse is liturgies. 4 Esra is apokalipties en die Wysheid van Salomo, Jesus Sirag en Barug is wysheidsliteratuur.

3 Esra oorvleuel gedeeltelik met dele van 2 Kronieke, Esra en Nehemia en beskryf die geskiedenis van die Paasfees* in die tyd van Josia* in 621 vC tot by die hervorming van Esra* in 444 vC. Dit fokus veral op die herbou van die tempel*. 4 Esra is oorspronklik in Hebreeus geskryf in ongeveer 100 nC, met enkele Christelike byvoegings (hoofstuk 1, 2, 15 en 16). Die boek is ʼn Joodse teoloog se worsteling om die probleem van kwaad in die wêreld te verstaan.

Tobias, wat dateer uit ongeveer 200 vC en wat in Hebreeus of Aramees* geskryf was, toon aan dat God diegene sal beskerm en seën wat sy wet hou (veral deur die gee van aalmoese en gebed). Judit is teen 150 vC in Hebreeus geskryf en handel oor die val van Holofernes, ’n generaal van Nebukadneser*, deur die lis van ’n mooi vrou. Die boek wil aantoon dat selfs geringe mense wat op God vertrou, deur Hom bewaar sal word. Die boek is nie histories betroubaar nie.

Die Wysheid van Salomo is in Aleksandrië geskryf tussen 50 vC en 50 nC. Dit is ’n wysheidsboek waarin die skrywer die Jode aanmoedig om getrou te bly aan hulle geloof omdat hulle geloof ware wysheid bevat wat van God af kom. Die Wysheid van Jesus Sirag is die langste van die apokriewe boeke en is in ongeveer 180 vC in Hebreeus geskryf. Dit is ’n wysheidsboek in die styl van Spreuke* en het hoë aansien deur die eeue geniet. Dit raak ʼn wye verskeidenheid van sake aan, met gesagvolle instruksies vir elke faset van ʼn gelowige se lewe.

Barug is geskryf in die styl van die Hebreeuse profesie en word toegeskryf aan Barug (Baruk*), die profeet Jeremia se sekretaris. Die inhoud hou veral verband met die ballingskap in Babel*, met gebede en ’n verkondiging van herstel. Dele dateer uit ongeveer 100 vC, terwyl ander dele kort ná 70 nC geskryf is. Die Brief van Jeremia in Barug 6 is eintlik ’n preek oor die dwaasheid van die aanbidding van afgode*. Dit is waarskynlik teen 25 vC geskryf.

Die Byvoegsel by die Geskiedenis van Ester (Ester 10:4–16:24) is nie ’n aparte boek nie, maar byvoegings by die boek van Ester*, geskryf in ongeveer 125 vC. Die boek Ester bevat self nie die Naam van God nie. Hierdie byvoegings stel dit reg deur die regverdige God te loof wat vir Israel* as sy eiendom gekies het.

Die Gebed van die drie manne in die vuur (Dan 3:24-90) sluit aan by die bekende verhaal in Daniël* en dateer uit ongeveer 165 vC. Die Geskiedenis van Susanna (Dan 13) wys hoe Daniël hierdie edele vrou gered het. Dit dateer uit ongeveer 90 vC. Die verhaal van Die beeld van Bel en die Draak (Dan 14) is ’n waarskuwing teen afgodsdiens. Die Gebed van Manasse sluit aan by die bekering van Manasse wat in 2 Kron 33 genoem word.

1 Makkabeërs bied belangrike historiese gegewens uit die jare 175–135 vC. Dit is teen 100 vC in Hebreeus geskryf en handel oor die geskiedenis van die opstand van die Makkabeërs teen Antiogus Epifanes en die herstel van die tempeldiens daarna, geskryf uit die perspektief van die Sadduseërs*. 2 Makkabeërs handel ook oor hierdie geskiedenis, vanuit die perspektief van die Fariseërs*, met besondere aandag aan bo-natuurlike wesens wat in die stryd gehelp het.

Vir verdere lees: DG Clark 1997. “Apocrypha: Theology of” in: WA Van Gemeren (red), New International Dictionary of Old Testament Theology and Exegesis, deel 4. Grand Rapids: Zondervan.

Sidebar