APOSTEL

APOSTEL. Die woord “apostel” kom van ’n Griekse* werkwoord wat “stuur” beteken. ’n Apostel is altyd ’n met volmag “gestuurde”. Reeds die Griekse geskiedskrywer Herodotus (vyfde eeu v C) ken hierdie begrip. Die Nuwe-Testamentiese* apostelbegrip toon heelwat variasie. Tog is dit altyd iemand wat met volmag gestuur word om namens iemand anders ’n bepaalde opdrag uit te voer. Jesus* Christus* is Gód se Apostel (Heb 3:1). Daarteenoor was Epafroditos* ’n apostel van die gemeente* van Filippi wat Paulus* moes gaan ondersteun (Fil 3:25). In die meeste gevalle was dit egter Jesus Christus, die Here*, wat mense as sy apostels uitstuur om die goeie nuus te gaan verkondig (Matt 10:2; Hand 1:2). Volgens Hand 1:21-22 was die vereiste vir apostelskap dat so iemand ’n getuie* (ooggetuie) van Jesus Christus se aardse optrede en veral van sy opstanding* moes gewees het. Paulus se apostelskap was buitengewoon in dié sin dat die verhoogde Christus aan hom, die “ontydig geborene”, verskyn het (1 Kor 15:8). Juis omdat die apostels die ooggetuies was, is hulle as die fondament van die kerk* beskou (Ef 2:20; vgl Op 21:14), en gaan die Nuwe-Testamentiese apostelamp nie voort nie. Die volgende word tot die apostelgroep van die Here Jesus gereken: Simon Petrus*, Andreas*, Jakobus*1, Johannes *2, Filippus*2, Bartolomeus*, Tomas*, Matteus* (Levi), Jakobus*1, Taddeus (of Judas), Simon*2, Judas Iskariot* en Paulus*.

 

Sidebar