APOSTOLAAT

APOSTOLAAT verwys na die apostelamp. Die apostels* was direkte ooggetuies van Christus* en sy werk. Ná die apostels was daar geen apostoliese suksessie*/opvolging nie – ’n verskilpunt tussen die Reformasie* en die Katolieke Kerk*. Die apostels is self deur Christus* geroep om sy boodskap te verkondig. Naas die apostelamp verwys die Nuwe Testament* ook nog na profete*, evangeliste*, herders, leraars* en oudstes. Die verskeidenheid van ampte* is voorafgegaan deur die Ou-Testamentiese* profete* en priesters*. Hiermee word egter nie bedoel dat daar direkte parallelle tussen die Ou- en Nuwe-Testamentiese ampte getrek kan word nie. Hoewel die apostels – soos die ander ampte hierbo genoem – ’n besondere rol in die kerk* het (1 Kor 12:28), was hulle nie belangriker as ander gelowiges nie. Uit die Romeinebrief* is dit duidelik dat die apostel ’n gesagsdraer was wat sy gesag moes gebruik in die opbou van die gemeente*. Dit kan aanvaar word dat die opdrag aan die apostels ook die basis vorm vir die opdrag van die leraarsamp*. Die term “apostolaat” word ook vir die kerk gebruik om sy gestuurdheid in die wêreld aan te dui.

 

Sidebar