APOSTOLAATSTEOLOGIE

APOSTOLAATSTEOLOGIE is gemunt deur Nicolas Dally in sy publikasie Histoire de l’apostolat (1846), en daarna opgeneem in Duitse konteks deur Wolfgang Gröszel in sy Lehre vom Apostolat (1897). Eers vroeg in die 20ste eeu vind ons die gebruik van die term in Nederlandse konteks by Barend Schuurman in sy Discipelschap en apostolaat (1920). Sedert die 1940’s het die “teologie van die apostolaat” in België, Frankryk en Duitsland opgang gemaak. Dit was egter in Nederland dat die mees invloedryke verteenwoordigers van die apostolaatsteologie werksaam was.

Die bekendste is Hendrik Kraemer* in sy Waarom nou juist het Christendom? (1960), Albert van Ruler* in sy Theologie van het apostolaat (1953), Johannes Hoekendijk in sy betrokkenheid by twee van die Wêreldraad van Kerke* se projekte, te wete The Word of God and the Living Faiths of Men (1955–1970) en The Missionary Structure of the Congregation (1962–1966), en Arend van Leeuwen in sy Christianity in World History (1964). Uit die verstaan van die Bybelse* begrip “apostolaat*” wat die betekenisinhoud van “roeping, gestuurde, volmag, verkondiging van die evangelie aan die wêreld” gedra het, ontwikkel die kern van die apostolaatsteologie. Die apostolaat word as die bestaansgrond van die kerk* beskou en kom tot uitdrukking in sy (missionêre) gerigtheid op die koninkryk* van God in diens aan die wêreld, en dan spesifiek die nood van die wêreld. Hierdie diens van die kerk word vergestalt in evangelisasie* en sending* as die twee hoekpale van die apostolaat.

 

Sidebar