APOSTOLIESE GELOOFSBELYDENIS

APOSTOLIESE GELOOFSBELYDENIS. Die Apostoliese Geloofsbelydenis (Symbolum Apostolicum – in die omgangstaal ook die Twaalf Artikels genoem) is, naas die Geloofsbelydenis van Nisea* en die Geloofsbelydenis van Atanasius*, een van die drie algemene belydenisse wat baie wyd in die kerk gebruik word. Alhoewel dit soms ’n ekumeniese* belydenisskrif* genoem word, word dit nie liturgies in die Oosters-Ortodokse Kerke* gebruik nie. In sy huidige vorm kan dit gesien word as ’n vroeë uitbreiding van ’n belydenis wat in die eerste of tweede eeu reeds by doopgeleenthede gebruik is. Die vroegste direkte verwysing na ’n geloofsbelydenis van die apostels is in ’n brief van die Sinode van Milaan (390 nC) aan biskop Siritius. In sy finale vorm soos ons dit vandag ken, het dit egter waarskynlik eers teen die einde van die sesde of begin van die sewende eeu in die suidweste van Frankryk beslag gekry. Die struktuur is trinitaries, met die meeste klem op die Seun van God in sy Middelaarsgestalte. Die Afrikaanse weergawe wat algemeen gebruik word, lui soos volg:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het (ook: neergedaal het na die hel); wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader; van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het. Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees; en ’n ewige lewe.

 

Sidebar