APOSTOLIESE GELOOFSENDING (AGS) SE SENDINGAKSIE

 

APOSTOLIESE GELOOFSENDING (AGS) SE SENDINGAKSIE. Die AGS* het ontstaan as ’n regstreekse gevolg van die sendingmissie van twee Amerikaanse sendelinge, John G Lake* en Thomas Hezmalhalch. Past PL le Roux, ’n vriend van dr Andrew Murray*, wat van 1913 tot 1943 president van die AGS was, was vroeër ’n sendeling* van die NG Kerk* en het gesorg dat sendingwerk deel van die AGS se wese bly. Dit is oor die jare dikwels beklemtoon dat die hoofrede vir die AGS se ontstaan en voortbestaan, die wen van siele vir die koninkryk van God is. In die vroeë jare was die AGS veral daardeur gekenmerk dat gewone lidmate besiel was om te getuig, deur tentveldtogte en opelugdienste. Gedurende die eerste paar dekades van sy bestaan, het die lidmaattal van die kerk elke dekade ten minste verdubbel. Sy sendingaksies het meegebring dat die AGS in 25 lande van die wêreld, hoofsaaklik in Afrika, gevestig is. Onafhanklike sendingorganisasies en waarnemers reken dat die AGS een van die kerke in Suid-Afrika is wat die meeste in die sendingveld belê in terme van sendelinge en finansies. Soos in die geval van die meeste tradisionele kerke in gewese Europese kolonies, is sendingwerk deur die AGS veral gesien as bediening aan die inheemse bevolking. Swart lidmate het ook van meet af aan die grootste persentasie van die AGS uitgemaak. Vandag is hoogstens 30% van sy lidmate blank. Twee redes wat veral in die Afrika-konteks die sendingwerk van die AGS bevorder het, was die vryheid en spontanïteit van die liturgie*, asook die sterk charismatiese* dimensie – veral dié van bonatuurlike genesing en die uitdrywing van duiwels. Die merkwaardigste sendinginisiatief wat uit die AGS gebore is, is die projek Judea Harvest, waardeur tente aan gemeentes, streke en evangeliste beskikbaar gemaak word vir veldtogte in veral afgeleë landelike gebiede en plakkerskampe. In die eerste paar jaar van die 21ste eeu is meer as 1 000 tente op dié manier beskikbaar gestel en honderde gemeentes geplant.

 

Sidebar