APOSTOLIESE GELOOFSENDING VAN SUID-AFRIKA (AGS),

APOSTOLIESE GELOOFSENDING VAN SUID-AFRIKA (AGS), wat in Mei 1908 deur die bediening van twee Amerikaanse sendelinge, John G Lake* en Thomas Hezmalhalch, tot stand gekom het, is die oudste en grootste pinksterkerk in Suid-Afrika. Dit vorm deel van die klassieke pinksterbeweging* wat aan die begin van die 20ste eeu spontaan wêreldwyd ontstaan het. In Suid-Afrika is die wieg vir die pinksterbeweging voorberei deur die 1860-herlewing in die NG Kerk*, die heiligheidsbeweging waarin dr Andrew Murray* ʼn sleutelrol gespeel het, en die sionistebeweging van John Alexander Dowie wat aan die einde van die 19de eeu in Suid-Afrika posgevat het. Die armblankevraagstuk het die klimaat verder voorberei. Die AGS, soos die res van die pinksterbeweging, het nie ontstaan deur ʼn kerkskeuring of primêr weens leerstellige redes nie. Dit het ten diepste gegaan oor ʼn ondervinding, naamlik die vervulling* of doop met die Heilige Gees* met die teken van spreke in tale (Kyk by: Glossolalie), asook die gepaardgaande gawes* van die Heilige Gees. Natuurlik was daar van die begin af sekere ander tipiese kenmerke, soos die doop* van (volwasse) gelowiges, sterk klem op heiligmaking*, gebed*, evangelisasie* en ’n lewende wederkoms*verwagting. Die AGS het ongeveer 1,5 miljoen aanhangers (2015). In April 1996 het die AGS die eerste tradisioneel-gesegregeerde denominasie in Suid-Afrika geword wat volledig struktureel geïntegreer het.

 

Sidebar