APOSTOLIESE SUKSESSIE

APOSTOLIESE SUKSESSIE. Daar is sowel ’n breë as ’n enger siening van die apostoliese suksessie. Die breë siening is dat die kerk* in geheel die opvolgers van die apostels* is. Jesus*, die apostolos van God (Heb 3:1), het die apostels met eie gesag/mag uitgestuur (Matt 10:4) om sy Woord* te verkondig (Mark 6:6-13) en mense te doop* (Matt 28:18; Luk 10:1). In die Geloofsbelydenis van Nisea* word die kerk as een, heilig, katoliek (algemeen) en apostolies beskryf. Die kerk is “apostolies” as dit, soos die apostels, getrou bly aan wat Christus* geleer het (Kyk by: Apostolisiteit).

Wat die enger siening betref, soos die Katolieke*, Anglikaanse* en Grieks-Ortodokse* kerke die saak beskou, word aanvaar dat die hele kerk apostolies is, maar dat Christus ook ’n besondere posisie van gesag/mag aan die twaalf apostels toevertrou het (Matt 10:2) om toe te sien dat die kerk getrou bly in die uitvoering van sy opdrag (1 Kor 12:28). Die apostels het, volgens hierdie beskouing, die grondslag van die kerk geword (Op 21:14). Met die loop van tyd en die uitbreiding van die kerk, het die apostels hierdie gesag deur handoplegging* met ander gedeel (1 Tim 4:14; 2 Tim 1:6). Tot vandag toe is daar dus ’n suksessie of opvolging van mans (biskoppe* genoem) wat op ’n besondere manier die twaalf apostels opgevolg het. (Kyk ook: Pous; en: Apostolaat.)

 

Sidebar