APOSTOLIESE VADERS

APOSTOLIESE VADERS is ’n benaming wat in die 17de eeu gegee is aan skrywers wat direk ná die skrywers van die Nuwe-Testamentiese geskrifte opgetree het. Dit is skrywers wat min of meer in die 2de eeu nC geskryf het, en wie se werke teologies reflekteer/reageer op wat later as die Ou* en die Nuwe Testament* bekend sou staan.

Die volgende skrywers word as “Apostoliese Vaders” beskou:

  1. Klemens van Rome was die derde biskop* van Rome, met Petrus* wat volgens oorlewering die eerste was. In die 2de eeu nC het baie apokriewe* geskrifte die rondte gedoen wat glo deur hierdie Klemens geskryf is, maar slegs die “Eerste Brief van Klemens” is werklik deur hom geskryf, waarskynlik in 96 nC. Die doel daarvan was om die rusie in die gemeente van Korinte* by te lê. Die brief gee baie inligting oor die stand van die kerklike ampte aan die einde van die 1ste eeu.
  2. Die skrywer van die “Tweede Brief van Klemens”. Hierdie brief is nie deur Klemens van Rome geskryf nie, maar hy is wel in die 2de eeu as die skrywer daarvan aanvaar. Dis die vroegste Christelike preek wat behoue gebly het. Dit onderrig mense in die Christelike lewe en in boetedoening.
  3. Ignatius1* (circa 35–107) was die biskop van Antiogië. Die leer wat hy in sy sewe briewe aan die gemeentes geskryf het terwyl hy onder soldate-bewaking van Antiogië na Rome op pad was om ’n martelaarsdood te skryf, maak van hom ’n Apostoliese Vader.
  4. Hermas* (2de eeu) het die nou bekende geskrif, die “Herder van Hermas”, geskryf waarin hy die Christelike leer verduidelik na aanleiding van ’n reeks visioene wat hy gehad het.
  5. Polikarpos* (circa 69–155) was die biskop van Smirna. Sy “Brief aan die Filippense” het behoue gebly waarin hy die leer van die “ketters” van sy tyd weerlê. Die bekende “Martelaarskap van Polikarpos” is deur die gemeente van Smirna geskryf en is die oudste weergawe van ’n martelaarskap wat ons het.
  6. Papias (circa 60–130) was die biskop van Hierapolis in Klein-Asië*. Fragmente van sy “Uitleg van die orakels van die Here” in vyf boeke het behoue gebly uit aanhalings in Irenaeus* en Eusebius*.
  7. Die skrywer van die Brief aan Diognetus (2de eeu). Ons weet nie wie die skrywer of die ontvanger van hierdie brief is nie. Die brief beskryf Christene as die siel van die wêreld.
  8. Die skrywer van die “Didache”. Hierdie is ’n Christelike handleiding in 16 hoofstukke oor moraliteit en kerklike praktyk. Dit bevat die vroegste Christelike liturgieë wat behoue gebly het.
  9. Die skrywer van die “Brief van Barnabas”. Volgens oorlewering is hierdie brief geskryf deur Barnabas*, die apostel* wat Paulus* ná sy bekering aan die ander apostels voorgestel het (Hand 4:36). Die brief gebruik die Ou Testament* om na die Christendom te verwys, en die Jodendom verkeerd te bewys.

Die Apostoliese Vaders is ’n belangrike skakel tussen die Nuwe-Testamentiese skrywers en die vroeë kerkvaders*.

 

Sidebar