APOSTOLISITEIT

APOSTOLISITEIT. Die kerk* word in die Geloofsbelydenis van Nisea* beskryf as een, heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels*. Laasgenoemde beteken dat die leer van die apostels die fondament is waarop die kerk gebou is, terwyl Christus* self die hoeksteen is. Die apostels was nie net die eerste lidmate van die Christelike kerk nie, maar ook die eerste sendelinge* wat die evangelie* uitgedra en verkondig het. “Apostolisiteit” sê dat die kerk steeds herkenbaar gebonde is aan die leer van die apostels soos vervat in die Skrif* en daarmee na die wêreld gestuur word.

Dié “apostoliese kerk” is op grond van sy gebondenheid aan die Skrif*, ’n oop kerk. Dit hou deeglik rekening met mense en die situasie(s) waarin hulle hulle bevind. Die kerk se uitleg en toepassing van die Woord aan diesulkes laat ruimte vir hulle om onder die leiding van die Gees*, hulle eie apostolêre kerk te vorm – met núwe aksente van gemeenskapsbelewing, geloofsformulering en liturgiese ordenings.

Naas apostolisiteit, moet die apostolaat* van die kerk – as die uitgaan om die evangelie aan die wêreld te verkondig soos die apostels gedoen het – ook altyd kenmerkend van die kerk van Christus op aarde wees.

Vir verdere lees: JA Heyns 1978. Dogmatiek. Pretoria: NGKB.

 

Sidebar