AQUINO, THOMAS VAN

AQUINO, THOMAS VAN (1224/25–1274) is een van die grootste teoloë uit die Middeleeue en een van die mees invloedryke teoloë van alle tye wat veral op die Katolieke Kerk* ’n onuitwisbare invloed uitgeoefen het. Hy word selfs in ons tyd as ’n gesaghebbende in baie breë kerklike en teologiese kringe gebruik en aangehaal. Hy was ’n Italiaans-gebore Dominikaan*, ’n sterk, groot man met ’n baie stil geaardheid. Hy het stadig beweeg en sy medestudente het hom die bynaam “die stom os” gegee. Hy het afwisselend in Frankryk en in Italië teologie* gedoseer. Thomas het die filosofie* van Aristoteles tot die filosofiese grondstruktuur van sy teologie gemaak. Hy het die sg Thomistiese teologie daargestel en daardeur ’n blywende invloed op alle Katolieke teologievorming daarná gehad. Hy het vir die Katolieke tradisie beteken wat Augustinus* vir die Protestantse* tradisie beteken het.

Aquinas het nie onderskeid gemaak tussen siel* en liggaam* nie. Vir hom was die siel as sodanig nie die ware mens nie, maar wel die eenheid van liggaam en siel. Die liggaam behoort dus ook tot die essensie van menswees. Aquinas was oortuig dat alle geskape dinge goed is, omdat dit deur God geskape is. Aquinas is dikwels misverstaan asof hy sou gesê het ons kan God volkome begryp met ons rede. Hy was juis nié so aanmatigend nie. Hy het bloot geglo ons kan met ons rede ondersoek instel en leer tot so ver as wat dit vir ons moontlik is.

Aquinas het ’n spesifieke werkwyse gehad. Hy wou alle bronne, al lyk hulle op die oog af teenstrydig, met mekaar versoen. Hy het ’n probleem gestel, verskillende standpunte daaroor teenoor mekaar geplaas, en dan sy eie antwoord gegee. Hy is ook bekend vir sy vyf argumente vir die bestaan van God. Hy skryf dat die bestaan van God ’n geopenbaarde waarheid is, maar dit is nie ’n waarheid buite die bereik van die rede nie. Al Aquinas se argumente begin by die wêreld soos ons dit met ons sintuie waarneem as logiese bewys dat daar ’n God agter alles is. God het sy openbaring aan ons gegee, sê Aquinas, maar God het dit aan die menslike verstand oorgelaat om dié openbaring te bepeins. Hy het ook gesê ’n mens kan nie teologie* beoefen sonder caritas, die Goddelike liefde*, nie.

In 1273 was Aquinas by die fees van die Heilige Nikolas waar hy die mis* bygewoon het. Daarna het hy na sy kamer teruggekeer, sy werk eenkant toe geskuif en nooit weer iets geskryf of gedikteer nie. Sy vriend Reginald wou weet wat skort. Aquinas het geantwoord dat hy niks meer kan skryf nie en dat alles wat hy tot dusver geskryf het, onsin was. Later het hy teenoor sy suster bygevoeg dat dit onsin was in vergelyking met wat hy gesien het en wat aan hom geopenbaar is.

’n Verskeidenheid van belangrike publikasies het uit Thomas Aquinas se pen gevloei, waaronder die Summa Theologica en die Summa contra Gentiles. Die Thomisme wat Thomas daargestel het, het ’n lang en ryklik gevarieerde geskiedenis. In moderne tye word onderskei tussen strenger en vryer Thomisme*: die eerste wil streng hou aan die uitleg van Thomas se geskrifte, die tweede wil meer maak van die gedagtewêreld van Thomas.

Vir verdere lees: Lisel Joubert 2013. Ontmoeting met heiliges. Tygervallei: Naledi.

 

Sidebar