ARAM

ARAM as persoonsnaam kom in die hele Ou Nabye Ooste voor: in Akkad*, in die Mari*-tekste en as pleknaam ook in Egipte*. Dit word in die Ou Testament* gevind, veral as samestelling, bv Aram-Damaskus. Die Arameërs* was aanvanklik nomadiese of semi-nomadiese stamme wat uit die Siro-Arabiese woestyn getrek het op soek na beter weivelde. Met hulle taal (Aramees*), godsdiens en ander kulturele gebruike het hulle ’n groot impak op die volke van die Nabye Ooste gemaak. Die belangrikste kontak tussen Israel* en die Arameërs word beskryf in die verhale oor die spanning tussen die Aramese state en Israel/Juda gedurende die 9de–8ste eeu vC. Volgens 1 Kon 11:23 en volgende verse is Damaskus* deur Reson onder Israel se heerskappy uit geneem. Later is die gespanne situasie tussen Israel *4 onder Baäsa en Juda*4 onder Asa* (1 Kon 15:18-19), uitgebuit deur Ben-Hahad*. Tydens die Omriede-dinastie moes koning Agab* verskeie aanvalle uit Aramese oord afweer (1 Kon 20). Juda* het ook onder druk van Aram-Damaskus gekom toe die laaste koning, Resin*, saam met Peka* van Israel probeer het om Juda onder sy heerskappy te dwing. Die Judese koning Jotam*2 het egter hulp gevind by Tiglat-Pileser*, die Assiriese grootkoning, wat Aram-Damaskus finaal verpletter het.

 

Sidebar