ARAMEES

ARAMEES. Tale word volgens geografiese kriteria geklassifiseer. Die groep Semitiese tale* word aangetref vanaf Mesopotamië, tot in Suid-Arabië, Etiopië en in Siro-Palestina. Hierdie tale het oor eeue heen ontwikkel en vertoon spesifieke kenmerke. Op grond van hierdie kenmerke word die Semitiese tale* in die volgende groepe verdeel: Noordwes-Semitiese tale (Amorities* en Ugarities*; Kanaänities* en Aramees); Oos-Semities (Akkadies*, Babilonies* en Assiries*) en Suidwes-Semities (Noord-Arabies en Etiopies). Uit die Kanaänitiese vertakking volg Hebreeus*, Fenisies en Moabities*, terwyl die Aramese tak ook onderverdeel word. Oud-Aramees en Ryks-Aramees is twee groter onderafdelings terwyl later tekste in Wes- en Oos-Aramees verdeel word. Onder die Wes-Aramese groepering val bepaalde Joods-Palestynse Aramese tekste, sommige Qumran*-tekste en van die Targumim* en Talmudim*. Siries* is ’n Oos-Aramese dialek en kom veral in Christelike literatuur in Sirië en Mesopotamië voor.

Aramees verteenwoordig dus ’n sentrale taal in die Nabye Ooste en is vanaf 800 vC in Aram gebruik. Ryks-Aramees was die amptelike taal van die Agemeniede ryk. Dit is ’n kwadraatskrif soos Hebreeus wat makliker lees- en skryfbaar was. Die Ou Testament* is in twee tale geskryf, Hebreeus en Aramees. Enkele dele van die boeke Daniël* en Esra* is in Aramees geskryf.

 

Sidebar