ARGEOLOGIE

ARGEOLOGIE is die studie van die materiële nalatenskap van antieke gemeenskappe. Die doel is om geskiedenis en kultuur te beskryf en sodoende ’n vergange werklikheid te (her)skep. Wanneer ’n mens dit gedoen het, is dit moontlik om die antieke mense en hulle kulturele prestasies in terme van ’n leefwêreld te interpreteer. Wat opgegrawe word, sluit enige tekens van bouwerk en argitektuur, potwerk, bene (van mense én diere), werktuie, juwele, geskrifte, beeldjies, amulette of seëls en huishoudelike afval in. Argeologie is ’n goeie bron van inligting oor die mense wat dikwels nie in historiese bronne prominent is nie, soos vroue, kinders, ongeletterdes, slawe en ander wat ver van die “sentrum” af geleef het.

Argeologie is nie skattejag nie. Opgrawings vind in goed beheerde omstandighede plaas, maar die verkryging van inligting is ewekansig. Slegs geselekteerde areas word opgegrawe en omdat ’n mens nie presies weet wat onder die grond lê nie, kan enigiets te voorskyn kom. Gevolglik kan die vondste nie deur ’n tradisie of magtige instelling gesensureer word, soos dikwels met tekste gebeur nie. Tekste ontstaan dikwels dáár waar die magtiges is: aan ’n koninklike hof of by ’n tempel, en dit dien baiekeer die belange van dié wat dit laat skryf. In hierdie opsig is argeologiese gegewens meer neutraal, maar die waarde van tekste moet ook nie onderskat word nie.

Argeologiese gegewens spreek egter nie vir hulleself nie. Dit word geïnterpeteer deur die argeoloog wat die verslag skryf en dra onvermydelik die stempel van daardie persoon se kennis en voorveronderstellings.

Bybelse argeologie is ’n tak van argeologie wat spesifiek handel oor terreine en vondste uit die wêreld van die Bybel*. Dit behels die argeologie van Israel* en die Palestynse gebiede, Libanon, Jordanië en Sirië (Kyk by: Palestina). Belangrike aanvullende gegewens kom uit Egipte* en Mesopotamië* (antieke Babilonië*, Assirië* en Persië*), asook uit die Klassieke argeologie van die Middellandse See-gebied van Italië, Griekeland en Turkye. Vroeër was die hoofdoel van Bybelse argeologie, veral in Amerikaanse geledere, om die Bybel korrek te bewys. Die Bybelteks was die agenda en die argeoloog se taak was om die akkuraatheid van die tekste aan te dui. Tans het die fokus geskuif. Soos alle argeoloë, probeer Bybelse (of Siro-Palestynse) argeoloë om ’n vergange wêreld bloot te lê wat moderne mense kan help verstaan hoe die leefwêreld in Bybelse tye gelyk het. Tientalle opgrawings vind elke jaar plaas en massas inligting word in die proses beskikbaar. Dit bied tegelyk antwoorde en skep nuwe vrae.

Opgrawings in Israel vind hoofsaaklik op tels plaas. ’n Tel is ’n ruïneheuwel. Antieke dorpe en stede is naby ’n waterbron aangelê en was dikwels op ’n strategiese plek geleë. Wanneer ’n stad aangeval en in puin gelê is, het die volgende mense, soms dadelik, soms geslagte later, weer op dieselfde plek gaan woon. So het puinhope geakkumuleer, sommige so groot soos berge, met die oudste materiaal onder en die jongste bo. Opgrawing van so ’n terrein stel die argeoloog in staat om vas te stel hoe die mense geleef het en wat hulle gedoen het.

Vir verdere lees: PRS Moorey 1991. A Century of Biblical Archaeology. Louisville: Westminster / John Knox Press. TE Levy (red) 1995. The Archaeology of Society in the Holy Land. Londen: Leicester University Press.

 

Sidebar