ARISTOTELES

ARISTOTELES (382-322 vC) het as jongman lid van die Akademie in Atene* geword, en later leermeester aan die Masedoniese hof van kroonprins Alexander. In 335 het hy na Atene teruggekeer waar hy ’n skool opgerig het, en as “wandelende leermeester” bekend geword het. Ná die dood van Alexander was daar pogings om hom, synde ’n vriend van die Masedoniër, aan te kla, en hy vestig hom in Chalcis, waar hy die volgende jaar oorlede is.

Aristoteles het op hom terrein van die filosofie, logika, ontologie, natuurfilosofie en literatuurwetenskap laat geld. Hy het baie van sy werk in dialoogvorm geskryf, waarin hy – soos Plato (Kyk by: Platonisme) – sy insigte vir ’n groter publiek uiteengesit het. Meeste van dit het, op fragmente ná, verlore gegaan. Volgens Aristoteles is elke ding ’n werklikheid, en daar is maar één wêreld, wat onverganklik is. Die werklikheid is steeds in beweging – elke ding streef daarna om te word waartoe dit bestem is. In die stof, wat ewig is, lê die moontlikheid, die potensie, van die vorm, wat on-stoflik is. Hierdie “stoflose vorm” waarin geen potensie (moontlikheid tot verwesenliking) meer onvervuld is nie, waar alle strewes dus tot ’n einde gekom het en volmaaktheid bereik is, noem Aristoteles “God”.

Vir verdere lees: K Sprey in FW Grosheide en GP van Itterzon 1956. Christelijke Encyclopedie , 1956, Kampen: Kok

 

Sidebar