ARIUS

ARIUS (circa 256 – 336) is in Libië in Noord-Afrika gebore uit een van die Berber-stamme. Sy pa was Ammonius. Epifanius van Salamis, een van Arius se teenstanders, het Arius beskryf as aantreklik, lank en slank; vroue is deur sy sjarme en goeie maniere beïndruk en mans het sy intellek en suiwer morele waardes bewonder.

Aangesien Arius by verskeie geleenthede, veral by die Konsilie van Nisea*, as ketter* veroordeel is, het geeneen van sy werke behoue gebly nie. Slegs uit die aanhalings van sy werke in sy teenstanders se boeke, kan Arius se leerstellings afgelei word (Kyk ook: Arianisme).

Arius het sy opleiding by Lusius van Antiogië ontvang. Arius het in 313 ouderling* van die vooraanstaande Baucalis-distrik in Aleksandrië geword. Hy het gou met biskop Aleksander gebots oor Jesus* se Seunskap en Godheid. Hy is in 321 by ’n sinode in Aleksandrië veroordeel. Hy vlug na Palestina* waar hy Eusebius* ontmoet. In 325 is sy voordrag oor sy leerstellings by Nisea aan flarde geskeur en al sy boeke is verbrand. Hy is na Illirikium verban. Arius was ’n goeie vriend van Konstantyn* en Konstantyn het geoordeel dat Arius se leerstellings ortodoks (Kyk: Ortodoksie) is.

 

Sidebar